'
Tuisblad | vraag & antwoord
vraag & antwoord


Klik op 'n vraag hieronder om die antwoord te lees.

 

brontekste en die verskille tussen Bybelvertalings

Dit kan nie genoeg beklemtoon word dat die Bybelgenootskap die allergrootste respek het vir die Bybel as Woord van God en daarom geen steen onaangeroerd laat om die betroubaarste Hebreeuse, Aramese en Griekse brontekste vir sy Bybelvertalings te gebruik nie. Enige bewering of insinuasie dat dit nie die geval is nie en dat die sogenaamde Textus Receptus eerder gebruik moet word, is gebore uit misverstand, wantroue of blote onkunde. Hoe groot hierdie wanopvatting is, blyk onmiddellik wanneer ons kyk na die onderstaande neutedop vergelyking tussen die Textus Receptus en die jongste gedrukte Nuwe-Testamentiese bronteks van die United Bible Societies (die sogenaamde UBS-teks) wat Bybelvertalers vandag oor die hele wêreld as gesaghebbend erken en gebruik:

Die UBS teks Die Textus Receptus
  1. Meer as 5 000 Griekse tekste van die Nuwe Testament, waarvan sommige selfs tot op die 2de en 3de eeue nC teruggaan, is wetenskaplik bestudeer, volgens sorgvuldig opgestelde kriteria geëvalueer, en die mees betroubare Bybelteks is daaruit saamgestel.
  2. Hierdie teks is die gesamentlike produk van 'n groot aantal toegewyde spesialiste op die gebied van die Tekskritiek van die Nuwe Testament. Die UBS teks wat vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling gebruik word, is na baie vooraf studie en raadpleging gefinaliseer deur 'n eindkomitee van vyf internasionale spesialiste wat as gelowiges 'n groot deel van hulle lewe daaraan gewy het om die oorspronklike Bybelteks so betroubaar as moontlik te bepaal.
  3. Om die bogenoemde redes kan die bronteks wat vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling gebruik word, werklik vertrou word. Uiteraard bestaan daar nog gevalle van onsekerheid, maar hierdie bronteks is veel nader aan die oorspronklike as wat die geval was met die Textus Receptus.
  1. Slegs 6 Griekse tekste van die Nuwe Testament is gebruik, waarvan die heel oudste eers uit die 10de eeu en van die ander so laat as uit die 15de eeu nC (!!) dateer. Vir Openbaring is net een manuskrip uit die 12de eeu gebruik en vir die laaste 6 verse moes as noodmaatreël 'n terugvertaling uit die Latynse Vulgaat gemaak word.
  2. Die Textus Receptus is man alleen deur Desiderius  Erasmus saamgestel. Hy was 'n groot wetenskaplike en het die beste gebruik gemaak van sy beskikbare bronne, maar daardie bronne was beperk, van mindere kwaliteit en wetenskaplike teksvergelyking was op daardie stadium nog in sy kinderskoene. Gevolglik vertoon die Textus Receptus ongelukkig talle afwykings van die beste brontekste waaroor ons vandag beskik. Die Textus Receptus is weliswaar deur persone soos Stephanus en Beza gekorrigeer, maar sy basiese swakhede is nie aangespreek nie.
  3. Die geliefde 1933/1953-Bybelvertaling, wat een van ons kosbaarste Afrikaanse kultuurskatte is, het nog wat die Nuwe Testament betref op die Textus Receptus berus. Daarom sou dit, ten spyte van die genoemde vertaling se pragtige kwaliteite, getuig van onkunde en ‘n misplaaste piëteit om die 1933/1953-vertaling teen die 1983-vertaling of Die Bybel: 'n Direkte Vertaling af te speel.

 

Wat hierbo in 'n neutedop saamgevat is, kan nou verder uitgespel word:    

Die Bybelgenootskap gebruik slegs die beste en betroubaarste brontekste in sy Bybelvertalings. Hierdie brontekste is die resultaat van intensiewe navorsing en word sonder uitsondering deur alle Bybelgenootskappe oor die wêreld vir amptelike vertalings gebruik.

Bewerings word soms gemaak dat die brontekste vir die 1983-vertaling, asook vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling (wat tans vertaal word), “vervals en korrup” is en dat die sogenaamde Textus Receptus die enigste betroubare bronteks is. Navorsing oor die oorspronklike bewoording van antieke dokumente waarvan die oorspronklike handskrifte nie meer bestaan nie, is 'n uitgebreide en gesofistikeerde wetenskap wat bekend staan as tekskritiek. Tekskritiek beoog onder meer die vasstelling, so ver as moontlik, van die beste brontekste van antieke dokumente. In die geval van die Bybel het die tekskritiek veral oor die afgelope eeu besonder verfynd en gespesialiseerd geraak, juis omdat dit vir gelowiges so buitengewoon belangrik is om so na as moontlik aan die oorspronklike bewoording van die Bybelse dokumente te kom. Hierdie ondersoek het onteenseglik bewys dat Textus Receptus ongelukkig baie gebreke vertoon.

Desiderius Erasmus, wat verantwoordelik was vir die grondvorm van die Textus Receptus, het vir die voorbereiding van sy gedrukte Griekse Nuwe Testament slegs ses manuskripte (sommige ook nog onvolledig) tot sy beskikking gehad. Onder groot druk van sy uitgewer, Frobenius van Basel, moes hy dit binne 6 maande gereed kry om 'n ander uitgewer voor te spring.  Sy heel oudste manuskrip (kodeks 1) was so laat as uit die 10de eeu, maar hy het dit boonop nie baie gebruik nie. Vir die Evangelies het hy net vier manuskripte gehad, die jongste daarvan uit die 15de eeu! Vir Openbaring het hy oor net een manuskrip (uit die 12de eeu) beskik, waarvan die laaste bladsy ook nog ontbreek het. Gevolglik het hy Openbaring 22:16-21 sommer eiehandig uit die Latynse Vulgaat na die Grieks terugvertaal! Dieselfde het met Hand 9:5b en 6a gebeur. Sy derde uitgawe (1522) het die basis geword van die sogenaamde Textus Receptus. Vanweë die talle foute in hierdie Griekse teks is dit dikwels hersien, onder meer deur Robert Estienne (Stephens/Stephanus) en Theodore Beza. Weens die haas waarmee dit voorberei is, die min en gebrekkige manuskripte tot sy beskikking en die nog primitiewe stand van die destydse tekskritiek, sou dit totaal misplaas wees om te beweer dat die Textus Receptus van Desiderius Erasmus, waarop die 1933/1953 Afrikaanse vertaling gegrond is, “die enigste, ware en korrekte” bronteks is. So 'n stelling berus op totale onkunde.

Daarteenoor is die gedrukte bronteks wat vandag vir Bybelvertalings gebruik word, die resultaat van internasionale samewerking tussen vakkundiges wat in die Nuwe-Testamentiese tekskritiek spesialiseer. Tekskritiek is die wetenskap wat daarna streef om op grond van die beskikbare teksgetuies 'n rekonstruksie van die oorspronklike geskrifte van die Nuwe Testament (die outograwe) te maak. Om so na as moontlik aan die oorspronklike teks van die Nuwe Testament te kom beskik ons oor drie groepe teksgetuies (elk bestaande uit verskeie dokumente): die Griekse manuskripte (handskrifte); vroeë vertalings van die Griekse Nuwe Testament en aanhalings deur die  kerkvaders.

Van hierdie drie groepe teksgetuies geld die Griekse manuskripte as die primêre bron. Die ou vertalings en die aanhalings is wel waardevol, maar tog in wese sekondêr (indirek). Die totale aantal Griekse manuskripte beloop tans om en by 5 894! Van tyd tot tyd word egter nog nuwe gegewens bekend gemaak. Vergelyk hiermee die skamele ses manuskripte – wat nog boonop van minder goeie gehalte was – waarop Erasmus sy uitgawe gebaseer het. (Dit gaan uiteraard nie bloot om getalle nie, maar veral om die kwaliteit van die betrokke manuskripte.)

Die oudste manuskripte was nie van perkament (diervelle) nie, maar van papirus (skryfmateriaal wat gemaak is van die vesels van 'n rietagtige plant). Die papiri (tans 127) word hoofsaaklik tussen die 2de en die 6de eeu gedateer en is meesal ouer as die oudste perkament manuskripte. Daarom staan hulle ook dikwels nader aan die verlore oorspronklike outograwe van die Nuwe Testament.

Perkament manuskripte word in twee groepe verdeel: 1) Unsiale/majuskels, dit wil sê manuskripte wat in hoofletters geskryf is. Van hulle is daar tans ongeveer 318 bekend, en hulle stam uit die 4de tot die 9de eeu. Beroemde unsiale is Codex Sinaiticus, Codex Alexandrinus, Codex Vaticanus, Codex Ephraemi Rescriptus en Codex Bezae Cantabrigiensis. 2) Die minuskels of manuskripte in kursiewe of kleinletterskrif. Daar is tans ongeveer 2 907 minuskels bekend, en hulle dateer uit die 9de tot die 15de eeu.

Samevattend: Met die talle uitstekende Nuwe-Testamentiese manuskripte tot ons beskikking waarvan sommige selfs, al is dit fragmentaries, tot die 2de en 3de eeue nC terugreik, gepaard met die gevorderde stand van die moderne teksevaluering, is ons vandag bevoorreg om ‘n baie beter bronteks voor ons te hê as die een wat Erasmus gehad het. Daarom sou dit absoluut onverantwoord wees om nog met die Textus Receptus te volhard.

Die vertalers van die 1933/1953 Afrikaanse Bybel was reeds destyds goed bewus van die beskikbaarheid van betroubaarder brontekste as dié wat die vertalers van die Nederlandse Statenvertaling gebruik het. Omdat die Statenvertaling egter so diep by Afrikaanssprekendes ingeburger was, het die vertalers doelbewus besluit om nie van die bronteks vir die Statenvertaling (die Textus Receptus) af te wyk nie. Eers moes die Bybeltaal van Nederlands na Afrikaans verander. Die oorgang na 'n nuwe bronteks sou vir later moes oorstaan.

Uit die bostaande is dit so duidelik soos daglig dat dit onwaar is om te beweer dat die brontekste wat die Bybelgenootskap vir Bybelvertalings gebruik “korrup en verdraai” is. Eweneens dat die Textus Receptus die beste bronteks sou wees.

Wat die verwyte van “weglatings” in die 1983-vertaling (teenoor die 1933/53 vertaling) betref, kortliks die volgende: Die studie van die betroubaarste tekste het duidelik aangetoon dat die gewraakte “weglatings” eintlik geen weglatings was nie, maar toevoegings tot die oorspronklike Bybelteks. Die neiging by oorskrywers van die Bybelmanuskripte was eerder om ter goedertrou sekere inligting of verduidelikings toe te voeg as om iets weg te laat. Wanneer hedendaagse vertalings dus sogenaamd “iets weglaat” is dit bloot om op grond van die beste manuskripgetuienis sodanige toevoegings te verwyder en so die oorspronklike teks te herstel. Dit stem ooreen met die beleid van die Bybelgenootskappe om slegs die beste en betroubaarste brontekste te gebruik.    

In die geval van die Ou Testament is vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling die vierde uitgawe van die Biblia Hebraica Stuttgartensia gebruik, uitgegee deur die Deutsche Bibelgeschellschaft, Stuttgart (1990), en vir die Nuwe Testament is die vierde uitgawe van die Greek New Testament gebruik, uitgegee deur die United Bible Societies en die Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart (1994). Juis omdat hierdie twee brontekste die betroubaarste tekste is waaroor ons beskik, het Die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans), wat die Bybelgenootskap in hierdie verband adviseer, hierdie tekste as vertalingsbasis vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling goedgekeur en aanbeveel.

Waar die Bybelgenootskap soveel erns met sy groot  verantwoordelikheid maak om toe te sien dat die Bybel en sy boodskap in al sy Bybelvertalings betroubaar weergegee word, is dit werklik hartseer en tot skade van die Koninkryk van God wanneer sy integriteit verdag gemaak word.

Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Julie 2013

Hierdie dokument kan ook hier as pdf afgelaai word.

verdagmaking van die Bybel: 'n Direkte Vertaling

'n Vergadering van die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) (KABA) van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het op 30 Oktober 2012 plaasgevind.

Vyftien kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik, was teenwoordig.

Die vergadering het kennis geneem van die verdagmaking en pogings om die Bybel: 'n Direkte Vertaling, wat tans deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op versoek van die kerke vertaal word, by voorbaat in diskrediet te bring.

Die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) het eenparig die volgende besluit aanvaar:

Die vergadering
1. vind dit baie jammer dat pogings aangewend word om die Bybel: 'n Direkte Vertaling (BDV) verdag te maak en by voorbaat in diskrediet te bring op grond van die manier waarop tekste in die Ou Testament, wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word, weergegee word en distansieer hom van al sodanige pogings;
2. bely onomwonde, saam met die hele vertaalspan en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), die Godheid van Christus en sy verlossingswerk;
3. betuig sy dank teenoor die BSA vir die besluit dat ’n tweede uitgawe van die vertaling (soos versoek deur sommige kerkgenootskappe) goedgekeur word waar hoofletters gebruik sal word in Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word;
4. versoek kerkgenootskappe om hul lidmate bewus te maak van die BDV en die webblad www.bybeldirektevertaling.co.za onder hulle aandag te bring;
5. verseker die vertaalspanne en redaksionele komitees van hul voorbidding vir die vertaling van die BDV.
6. bedank die BSA vir die wyse waarop hulle die saak met betrekking tot die verdagmaking van die BDV hanteer.


Ons vertrou dat hierdie duidelike besluit verder sal bydra om kerkgenootskappe, kerke en lidmate gerus te stel ten opsigte van die integriteit en geloofsoortuiging van die vertaalspan en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika met betrekking tot die vertaling wat tans gedoen word.

Vanweë die feit dat die oorgrote meerderheid kerkgenootskappe wat Afrikaans as voertaal gebruik by hierdie vertaling betrokke is, vertrou ons dat die vertaling instrumenteel sal wees om die Kerk en Koninkryk baie wyd te dien en dat dit duidelik en helder die Goeie Nuus sal oordra "sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê." (Johannes 20:31)

In diens van die Woord

Ds Gerrit Kritzinger
Uitvoerende Hoof

1 November 2012

verklaring van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika na aanleiding van 'n petisie teen 'n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling

Dit het onder die aandag van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) gekom dat daar skrywes per e-pos die rondte doen wat mense versoek om teen die Afrikaanse Bybelvertaling wat tans onderneem word, op te tree.

Die rede wat aangevoer word (en daar word aangehaal presies soos dit in die petisie staan), is dat die vertaling “Jesus Christus, die Seun van God, as 'n gewone mens omskryf” asook dat die vertaling “Beoog Om Jesus Christus Totaal En Al Uit DIE MESSIAANSE PROFESSIEë Uit Te Vertaal, Deur KLEINLETTERS Te Gebruik Inplaas van GROOT LETTERS.” Verder word gesê: “Met Jesus Christus uit hierdie Nuwe vertaling (2016) word die GODHEID VAN JESUS CHRISTUS Totaal en al wegvertaal, en kan ENIGE (NEW AGE) god nou in hierdie skrifgedeelte in geredeneër word.”

Die BSA wil hom ten sterkste teen hierdie e-posse uitspreek aangesien dit van alle waarheid ontbloot is. Hierdie aantygings word in 'n baie ernstige lig beskou.

Ons gee graag aan u meer inligting oor die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat tans onderneem word:

Hierdie vertaling is deur die kerke wat Afrikaans as voertaal gebruik, aangevra omdat daar ‘n behoefte aan ‘n bronteksgeoriënteerde of direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans is. Die BSA inisieer self nie nuwe Bybelvertalings sonder die goedkeuring van die betrokke kerkgenootskappe nie en voer dus net die opdrag van die kerke uit met hierdie vertaling.

Die vertaalopdrag wat opgestel is in medewerking met die kerke is “skep ‘n goed verstaanbare bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.” Dit word verder omskryf as ‘n vertaling wat ‘n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks sover moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees. Verklarende voetnotas moet gebruik word om inligting te voorsien wat nie in die vertaling self voor die hand liggend is nie.

Die vertalers van hierdie vertaling eerbiedig die Nuwe-Testamentiese verstaan van die Ou Testament en aanvaar sonder voorbehoud die Ou Testament as deel van die Christelike Bybel. Die vertalers is deeglik bewus daarvan dat daar vir die Nuwe Testament op bepaalde plekke in die Ou Testament, naas die gewone betekenis ook ’n “verborge” of “dieper” betekenis is, wat verwysings is na Christus en dit wat Hy sou kom doen. Die vraag wat vooraf baie lank beredeneer is, was die volgende: Moet die “verborge” of “dieper” Nuwe-Testamentiese verstaan van ’n teks reeds in die vertaling van die Ou Testament neerslag vind, met die gevolg dat die voor die hand liggende betekenis op die agtergrond skuif; of moet die gewone betekenis vertaal word met die gevolg dat die Nuwe-Testamentiese verstaan van die teks, nie aangedui word nie? Dit was duidelik dat dit onmoontlik is om sowel die voor die hand liggende betekenis as die dieper betekenis tegelyk te verwoord of in druk aan te dui in die vertaling.

Omdat die vertalers egter wel die Nuwe-Testamentiese verstaan van gedeeltes in die Ou Testament eerbiedig, is besluit om in die vertaling al daardie gevalle waar die Nuwe Testament ʼn verwysing na Christus in ’n woord of woorde van die Ou Testament sien, in die Ou Testament met ’n voetnoot te merk. Sodoende kan die leser se aandag gevestig word op die Nuwe-Testamentiese verstaan van die bepaalde woord of woorde en dít sonder verlies van die betekenis daarvan in die Ou-Testamentiese verband. In die Nuwe Testament sal daar ook na die betrokke Ou-Testamentiese gedeelte terugverwys word. Hierdie oplossing tas die Godheid van Christus geensins aan nie, want die voetnoot dui juis aan dat ‘n spesifieke teks ‘n verborge verwysing na Christus bevat.

Die probleem kan kortliks geïllustreer word aan die hand van ’n voorbeeld. In Hosea 11:1 staan daar die bekende woorde (volgens die 1953-vertaling): “Toe Israel ’n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Dit verwys sonder enige twyfel na die twaalf stamme van Israel wat deur Moses uit Egipte uitgelei is. Dit is die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1, en in die 1953-vertaling is “seun” tereg nie met ’n hoofletter gedruk nie. Volgens Matteus 2:15 bevat Hosea 11:1 egter ’n profesie wat verwys na die kind Jesus se terugkeer uit Egipte saam met Josef en Maria ná die dood van Herodes. Op grond daarvan het die vertalers in 1933/53 en in 1983 “Seun” in Matteus 2:15 met ’n hoofletter laat druk. Dit is egter onmoontlik om die teks in Hosea 11:1 deur die gebruik van hoofletters vir die leser as ’n verwysing na Christus aan te dui sonder verlies van die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1. Dit gaan met ‘n voetnoot verduidelik word.

Let verder asseblief daarop dat, in verskillende tale, die oorgrote meerderheid Bybelvertalings nie hoofletters gebruik in Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe Testament as verwysings na Christus aangedui word nie. Dit geld onder andere vir die baie bekende Jesaja 53. Dit sluit in Engelse Bybels soos die King James Bybel (van 1611), New International Version, Good News Translation, English Standard Version, Contemporary English Version, The Message, American Standard Version, The Net Bible, New Century Version, New Jerusalem Bible, New Living Translation, 1890 Darby Bible, ensovoorts. Ons is bewus daarvan dat enkele ander Engelse vertalings wél hoofletters gebruik, maar dit is nie die algemene gebruik nie. Hoofletters word ook nie in die Duitse Luther Bibel en Gute Nachricht Bibel gebruik nie. So ook nie in Franse, Italiaanse, Spaanse en vier Nederlandse Bybels wat ons nagegaan het nie. In Afrikaans is daar nie hoofletters in die 1983-vertaling en die Bybel vir Dowes asook ander Afrikaanse vertalings wat in die mark is nie. Dit is duidelik dat die gebruik van hoofletters hoofsaaklik beperk is tot uitgawes van die Nederlandse Statevertaling wat ná 1900 gedruk is en slegs enkele ander vertalings. Die Afrikaanse vertalings van 1933/53 het die gebruik van die Statevertaling van ná 1900 nagevolg. Dit is algemeen bekend dat die Hebreeuse taal nie enige “hoofletters” gebruik nie.

Sommige kerke het die BSA wel oor hierdie saak van hoofletters genader en die BSA is die afgelope twee jaar met daardie kerke in gesprek. Daar is kerke wat, soos in die 1983-vertaling, die gedeeltes in die Ou Testament met kleinletters gedruk wil hê, en daar is ‘n paar ander kerke wat, soos in die 1933/1953-vertaling, die betrokke gedeeltes met hoofletters gedruk wil hê. Ons kan die versekering gee dat die BSA besig is om op baie verantwoordelike wyse, met al die kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik, hierdie saak te hanteer.   

Ons wil dit baie duidelik stel dat vir die Bybelgenootskap en die vertalers die geloof in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, ononderhandelbaar is, en die Bybelgenootskap of sy medewerkers sal nooit, soos die e-pos beweer, die Godheid van Christus misken nie of op enige wyse daartoe bydra “dat Jesus Christus gelykgestel sal word aan enige (New Age) god” nie. Sodanige bewerings tas die integriteit en geloofsoortuiging van die Bybelgenootskap en die vertalers aan en word in die sterkste taal verwerp. U kan absoluut seker wees daarvan dat GEEN Bybelvertaling van die BSA die Godheid van Christus ontken of in die “new age” rigting beweeg nie. Die BSA is sedert 1820 betrokke by en verantwoordelik vir betroubare Bybelvertalings in al 11 die tale van ons land en sal nooit die betroubaarheid van die Goeie Nuus ondermyn nie.  

Die vertaling waaraan tans gewerk word, sal ‘n uiters deeglike vertaling van die Bybel wees en ons glo dat, wanneer dit verskyn, dit baie Afrikaanssprekendes tot geloof en nuwe lewe in Jesus Christus, die Seun van God, sal lei. Ons is ook oortuig daarvan dat dit ‘n instrument in die hande van die Heilige Gees sal wees om gelowiges te laat groei in die “kennis van die Seun van God”. Mag hierdie vertaling God in alles verheerlik!

Ons vind dit heeltemal onaanvaarbaar dat mense oningeligte en onwaar aannames per e-pos versprei. Ons ervaar dit as blote verdagmakery.  Besoek asseblief die webtuiste van hierdie vertaling www.bybeldirektevertaling.co.za vir die korrekte inligting.

U word dus vriendelik, dog dringend, versoek om te help om hierdie saak met die korrekte inligting reg te stel en hierdie dokument so wyd as moontlik te versprei.

In diens van die Woord

Ds Gerrit Kritzinger
Uitvoerende Hoof

enkele opmerkings oor die kritiek op die vertaling van die Bybel in Afrikaans

Daar doen tans e-posse die rondte wat beweer dat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika besig is of beplan om met die nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans, Christus uit die Ou Testament “uit te skryf” en dat die godheid van Christus “wegvertaal” word. Verder word ook gesê (en hierdie aanhalings staan woordeliks so in een van die skrywes) “[D]ie vertaling omskryf Jesus Christus die Seun van God as ’n gewone mens” en “elke Oosterse godsdiens, Hindo, Voorvaderlike geeste, Budistiese en Satanistiese gode word dan Gelyk aan Jesus Christus vertaal”. Daarom, so word betoog, gaan dit ’n “New Age” Bybel wees!

Die enkele saak waaroor dit gaan, is die vraag of woorde in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament aangehaal en op Jesus Christus van toepassing gemaak word, in die Ou Testament met hoofletters gedruk moet word. So byvoorbeeld lui die gedeelte in Jesaja 7:14 tot 16 in die 1953-vertaling “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.” Dit moet dan verander word om te lui “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n Seun baar en Hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal Hy eet as Hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. Want voordat die Seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.”

Die persone wat agiteer vir die gebruik van hoofletters in die Ou-Testamentiese tekste gaan dan ook so ver om te beweer dat, indien mense “die Name van Christus en die voornaamwoorde wat na Hom verwys, met kleinletters ... skryf, dan misken hulle vir Christus in die Skrif en misken hulle ook Sy Godheid”.

Om hierdie bewerings reg te kan beoordeel moet ’n mens net die volgende feite en vrae in berekening bring:

1.)    Die Griekse vertaling van die Ou Testament, naamlik die Septuaginta, wat ook die Bybel was waaruit die skrywers van die Nuwe Testament aangehaal het, gebruik nie hoofletters by enige van die tekste in die Ou Testament waaroor dit gaan nie. ’n Eienaam, soos Immanuel, word wél met ’n hoofletter geskryf. Beteken dit nou dat die Ou Testament wat ook die eerste Christene se Bybel was, Christus se godheid misken het en dat dit ’n “New Age” Bybel was?
2.)    Dieselfde vertaling, wat vir eeue die Bybel van gelowiges was, gebruik trouens nie eens ’n hoofletter vir God nie. Beteken dit dan dat die vertalers van die Septuaginta ook die godheid van God misken het?
3.)    Dieselfde geld vir die Latynse vertalings van die Bybel, die vertalings wat vir meer as ’n duisend jaar die Bybel van die kerk was! Beteken dit dat ons tóé al ’n “New Age” Bybel gehad het en dat Christus se godheid toe al misken is? Hoe is dit dan moontlik dat die kerk op grond van hierdie Bybel wat nie hoofletters gebruik in die besondere Ou-Testamentiese tekste nie, by die tweede ekumeniese konsilie van Konstantinopel, kon kom tot die belydenis dat Jesus “God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God” is?
4.)    Die Nuwe Testament in Grieks, wat dien en gedien het as bronteks vir al die vertalings van die Bybelgenootskap (ook die sogenaamde Textus Receptus wat die bronteks was vir die 1933- en 1953-vertalings) gebruik nie eens hoofletters in voornaamwoorde wat na Jesus van Nasaret verwys nie. Sou dieselfde fel oordeel oor hierdie bronteks uitgespreek word as wat by voorbaat oor die nuwe vertaling uitgespreek word?
5.)    Die Statevertaling van die Bybel, wat deur die Voortrekkers gelees is en wat hulle geloof gevorm het, is ook nie met hoofletters gedruk in die besondere gevalle van die Ou Testament nie. Dit het eers heelwat later in uitgawes van die Statevertaling  gebeur.
6.)    Die oorgrote meerderheid Bybels in die Westerse wêreld word ook nie met hoofletters gedruk nie. Sou die persone wat so verdoemend praat oor die nuwe vertaling, ook beweer dat Christus se godheid in daardie vertalings misken word en dat dit “New Age” vertalings is?
7.)    Die bewering dat die naam van Jesus in die Ou Testament “wegvertaal” word, is gewoon nie korrek nie. Eiename soos Immanuel word in die nuwe vertaling met ’n hoofletter gedruk. Na watter name sou die e-posskrywers dan verwys? Die naam Jesus word tog eers in die Nuwe Testament op grond van die verskyning van die engel aan Josef, aan hierdie Seun van God gegee.

Daar word ook in van die skrywes gewag gemaak daarvan dat daar Roomse invloed sou wees by die nuwe vertaling omdat die Rooms-Katolieke kerk ook meewerk in die sin dat daar vir hierdie kerk (en nie vir al die ander Afrikaanssprekende kerke nie) die Deutero-kanonieke boeke vertaal word. Besef die persone wat met hierdie stelling die nuwe vertaling in diskrediet probeer bring, dat die Deutero-kanonieke boeke vir baie meer as ’n duisend jaar deel was van die kerk se Bybel? Dit was Maartin Luther wat in die sestiende eeu eers in sy vertaling van die Bybel die Deutero-kanonieke boeke weggelaat het en wel om ’n baie eenvoudige rede: Daardie boeke was net in Griekse en Latynse vertalings beskikbaar en nie in Hebreeus nie. Luther se leuse was dat daar na die oorspronklike teruggekeer moet word. Hy het daarom die Joodse Hebreeuse tekste van die Ou Testament gebruik vir sy vertaling, soos wat ons trouens vandag nog doen in Protestantse kerke. Luther het gesê dit is goed om die Deutero-kanonieke boeke te lees, maar ’n mens het dit nie nodig vir jou saligheid nie. Waarom word daar dan nou, in die lig hiervan, stemming gemaak teen die nuwe vertaling as sou daar “Roomse invloed” wees?

Daar word ook soms uit dieselfde kringe as dié van die e-posskrywers, bewerings gemaak oor die brontekste wat vir die nuwe vertaling gebruik word, as sou dit vervals wees. Die grond vir hierdie bewerings is duidelik nie gegrond op wetenskaplike kennis of navorsing nie, maar word bloot gemaak omdat die jonger vertalings verskil van die 1933-vertaling wat in 1953 hersien is. Laasgenoemde vertalings word die maatstaf vir die beoordeling van elke ander vertaling waaraan die Bybelgenootskap sy hand waag. Erger nog, dit word ook gebruik as maatstaf vir die beoordeling van die brontekste! Navorsing van die brontekste is ’n uitgebreide wetenskap waarin daar gestreef word na die vasstelling van die beste brontekste, onder andere met die oog op Bybelvertaling. Dit kan nie gesê word van die sogenaamde Textus Receptus van Desiderius Erasmus waarop die 1933- en 1953-vertalings gegrond is nie. Die brontekste wat deur die Bybelgenootskap gebruik word, is die resultaat van intensiewe navorsing en is dieselfde as dié wat deur al die Bybelgenootskappe oor die hele wêreld gebruik word vir hulle amptelike vertalings.

Die hele debat oor Christus in die Ou Testament het wesenlik te doen met ’n mens se verstaan van die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament. Daar word gewoonlik sonder meer aanvaar dat aanhalings uit die Ou Testament wat ons in die Nuwe Testament aantref, aanhalings is van die Hebreeuse bronteks. Enige iemand wat Grieks en Hebreeus ken, sal egter by die nagaan van die tekste agterkom dat die aanhalings nie ’n vertaling van die Hebreeus teks is nie, maar dat dit aanhalings uit die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament, is. Dit beteken dat die Ou Testament wat deur die skrywers van die Nuwe Testament gebruik is, verskil het van die Ou Testament wat ons vandag ken en gebruik. Daar is in baie gevalle radikale verskille tussen die Septuaginta en die Hebreeuse bronteks wat vir Bybelvertalings gebruik word. In die geval van die boek Jeremia word bereken dat daar tot soveel as 6,000 verskille kan wees! Een van die bekendste gevalle is juis Jesaja 7:14 waar die Hebreeuse bronteks lees “Kyk, die jongvrou is swanger en gaan binnekort aan ’n seun geboorte gee, en sy sal hom Immanuel noem”. Die aanhaling in Matteus 1:23 “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem”, is ’n aanhaling uit die Septuaginta. Hierdie feite word gewoonlik nie in ag geneem wanneer daar kritiek op nuwe vertalings gelewer word nie. Dit geld veral waar die 1933- en 1953-vertalings in sulke gevalle geneig was om die vertalings van die Ou- en Nuwe Testament met mekaar te laat rym, soos in Jesaja 7:14.

Die vraag of die Bybel die woord van God is, is nie afhanklik van ons dogmatiese besinning oor die Ou en die Nuwe Testament of van die dogmatiese konstrukte wat ons van die Bybel maak nie. Die Bybel is ook nie die woord van God omdat dit sonder enige weersprekings is of omdat dit wetenskaplik korrek sou wees in sy uitsprake oor die natuur of die geskiedenis nie. Die Bybel is die woord van God waar die Heilige Gees dit, nieteenstaande die weersprekings en foute wat ons daarin kan uitwys, gebruik om mense tot geloof te bring of mense se geloof te versterk in die een en enigste lewende God wat na ons gekom het in sy Seun Jesus Christus. Hy wat gekruisig is en uit die dood opgestaan het.

 

Prof Andries Breytenbach
Maart 2012

watter gedrukte brontekste word vir hierdie vertaling gebruik?


Die gedrukte brontekste wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebruik word, is die brontekste wat wêreldwyd deur alle Bybelgenootskappe, wat lede van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (United Bible Societies) is, gebruik word. Hierdie tekste is die produk van toegewyde navorsing deur gelowige navorsers wat hulle ten doel gestel het om ons Bybelteks so na as moontlik aan die oorspronkilike geskrifte van die Bybelskrywers te bring en wat alle nuwe ontdekkings en beproefde wetenskaplike insigte en hulpmiddels hiervoor gebruik.

Ou Testament
Die basisteks wat as bron gebruik word vir die vertaling van die Ou Testament in Afrikaans is die vierde uitgawe van Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS4) uitgegee deur die Deutsche Bibelgesellschaft Stuttgart in 1990.

Tans is twee nuwe teksuitgawes van die Hebreeuse Ou Testament in proses van voorbereiding en publikasie:

  • Die Biblia Hebraica Quinta is bedoel as 'n opvolg vir BHS4.
  • Die Oxford Hebrew Bible is nog in proses en geen deel daarvan is nog gepubliseer nie.

Hierdie beplande publikasies sal, soos wat dit beskikbaar kom, ook as brontekste naas en saam met BHS4 gebruik word.

Nuwe Testament
Die Griekse teks wat in die vierde uitgawe van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se Greek New Testament  (UBS4 rev) van 1994 gedruk is, word as vertrekpunt gebruik.


Saam met die UBS4 rev word ook die 1983-uitgawe van die UBS Greek New Testament  (UBS3 corr) en die 26ste en 27ste uitgawes van Nestle-Aland se Novum Testamentum Graece, gebruik.

Deuterokanonieke Boeke
Vir die ABV word die weergawe in Paratext as bronteks vir die vertaling gebruik, naamlik Septuaginta.  Id est Vetus Testamentum graece iuxta LXX interpretes (ed Alfred Rahlfs); Stuttgart: Württembergische Bibelanstalt / Deutsche Bibelstiftung 1935.

watter soort teksgetuies is daar vir die Nuwe Testament beskikbaar?


Die gedrukte bronteks wat vir die vertaling gebruik word, is die resultaat van internasionale samewerking tussen vakkundiges wat in die Nuwe-Testamentiese tekskritiek spesialiseer. Dit is die wetenskap wat daarna streef om op grond van die beskikbare teksgetuies, 'n rekonstruksie te maak van die oorspronklike geskrifte van die Nuwe Testament (outograwe) waaroor ons nie meer beskik nie.

Daar is drie groepe teksgetuies (dokumente) wat gebruik kan word om vas te stel hoe die teks van die Nuwe Testament daar oorspronklik uitgesien het: Griekse manuskripte (handskrifte); ou vertalings van die Griekse Nuwe Testament in ander tale in die eerste eeue; aanhalings uit die Nuwe Testament in die geskrifte van die vroeë kerkvaders.

  1. Van hierdie teksgetuies is die Griekse manuskripte die primêre bron, en die ou vertalings en aanhalings meer sekondêr (indirek), maar tog ook waardevol. In 'n afsonderlike antwoord word meer inligting oor die Griekse manuskripte gegee.

  2. Met die uitbreiding van die evangelie het die behoefte aan verskillende vertalings van die Griekse Nuwe Testament vroeg reeds ontstaan. Dit het veral in die ooste (Sirië), Weste (Noord-Afrika, Suid-Frankryk en Italië) en Egipte ontstaan. Daar is dus verskillende Siriese, Latynse, Koptiese (Egipte), Etiopiese, Nubiese, Armeense, Georgiese en Gotiese vertalings.

  3. Aanhalings uit die Griekse Nuwe Testament by vroeë Christelike skrywers is ook belangrike teksgetuies, veral wanneer die skrywer se werk uit die tyd vóór ons oudste beskikbare manuskripte kom. Hierdie gegewens kan ook help om 'n teks te dateer en te lokaliseer.

hoeveel Griekse manuskripte is daar?


Die totale aantal Griekse manuskripte beloop tans reeds om en by 5 894. Daar word van tyd tot tyd nuwe gegewens bekend gemaak. (Vergelyk hiermee die ses manuskripte waarop Erasmus sy uitgawe gebaseer het.)

Die oudste manuskripte is nie van perkament (velle van diere) nie, maar van papirus (skryfmateriaal wat gemaak is van die vesels van 'n rietagtige plant). Die papiri (tans 127) word meestal tussen die 2de en die 6de eeu gedateer, hoewel enkeles uit die 7de eeu en die 8ste eeu afkomstig is. Die meeste is van die 3de en selfs die 2de eeu, en dus ouer as die bekende oudste perkament manuskripte en nader aan die verlore oorspronklike outograwe van die NT. Belangrike papiri is p52 (die oudste fragment van die Nuwe Testament uit die begin van die 2e eeu); die Chester Beatty-papiri (p45, p46, p47) en die Martin Bodmer-papiri (p66, p72, p74, p75).


Perkament manuskripte word in twee groepe verdeel:

  1. Unsiale/majuskuls dit wil sê manuskripte wat in hoofletters geskryf is. Daar is tans ongeveer 318 bekend en dit stam uit die 4de tot 9de eeu. Bekende unsiale is Kodeks Sinaiticus, Kodeks Alexandrinus, Kodeks Vaticanus, Kodeks Efraeimi Rescriptus en Kodeks Bezae Cantabrigiensis.
  2. Die minuskels of manuskripte in kursiewe of kleinletterskrif. Daar is tans ongeveer 2 907 bekend en hulle dateer uit die 9de tot 15de eeu. Sekere groepe minuskels kom soveel ooreen dat hulle as families saam gegroepeer word. Bekendes is f1, f13 en f1424.

Die derde groep is die leksionaria of kerklike leesboeke of leesroosters. Dit bevat nie die volledige teks van die Nuwe Testament nie, maar bepaalde perikope uit die Evangelies of Briewe wat op bepaalde Sondae (Feesdae) voorgelees is. Daar is tans ongeveer 2 449 leksionaria bekend waarvan enkele voor die 9de eeu en die meeste uit latere tye afkomstig is.

hoe betroubaar is die Nuwe Testament teksgetuies in vergelyking met ander antieke tekste?


Wanneer die teksgetuies van die Nuwe Testament vergelyk word met dié van klassieke outeurs, is dit opvallend met hoeveel meer vertroue die teks van die Nuwe Testament op grond van die bronne gerekonstrueer kan word.

Vir die meeste klassieke outeurs is daar gemiddeld minder as 20 manuskripte beskikbaar, wat vergelyk kan word met die bykans 6 000 Griekse manuskripte waarna in die vorige vraag verwys is. (Hierby kom nog die ou vertalings en die aanhalings uit die Nuwe Testament by vroeë Christelike skrywers).

Die tydperk wat die outograwe van die klassieke outeurs en hulle eerste beskikbare manuskripte skei, is minstens 500 jaar.

Daarteenoor beskik ons vir die Nuwe Testament oor minstens 15 manuskripte (weliswaar fragmentaries) so na as 100 jaar aan die afsluiting van die Nuwe Testament, tientalle binne die eerste 2 eeue nC, met ongeveer 100 manuskripte, waaronder een met die volledige Nuwe Testamente, voor die jaar 400 nC.

wat is die aard van die verskille tussen die verskillende tekstradisies?


Die Griekse Nuwe Testament behels ongeveer 138 000 woorde. Daar word bereken dat daar tot 250 000 variante lesings in die manuskripte van die Nuwe Testament kan wees. Dit sou die indruk kon skep dat die teks onbetroubaar is, maar dit hang saam met die groot getal beskikbare manuskripte (presies dieselfde variant word in honderde manuskripte herhaal) en die feit dat die oorgrote meerderheid van die variante onbelangrike spelling- en taalverskille is. In werklikheid word minder as 5% van die Nuwe Testament deur hierdie verskille geraak.

Die grootste hoeveelheid verskille is te wyte aan sogenaamde "nonsense" lesings, opsigtelik onsinnige omruiling van letters of wegval van letters wat net nie raakgesien is nie, soos "a apple" wat in Engels "an apple" moet wees. In ander gevalle word die bepaalde lidwoord byvoorbeeld voor eiename weggelaat of die orde van woorde omgeruil sonder dat dit enige verskil in betekenis in die Griekse teks meebring.

Daar is wel 'n kleiner aantal variante wat 'n betekenisverskil maak, maar wat nie werklik goed verantwoord kan word nie. 'n Voorbeeld is 1 Tess 2:9 waar feitlik alle manuskripte "die evangelie van God" lees, terwyl 'n laat Middeleeuse manuskrip lees "die evangelie van Christus". Dit is heeltemal onwaarskynlik dat net hierdie een baie laat manuskrip reg sou wees teenoor die totale teksgetuienis van feitlik alle manuskripte.

Net ongeveer 1% van alle variante maak sin en sou moontlik in die oorspronklike teks kon gewees het. Dit moet dus deeglik oorweeg word. Rom 5:1 is 'n goeie voorbeeld waar net een letter in die Grieks 'n verskil in betekenis kan maak. Sommige manuskripte lees hier echomen (het ons vrede / is daar vrede), terwyl ander echömen lees (laat ons vrede hê). Omdat beide lesings wel in die teks en breër verband moontlik is, moet hier op tekskritiese gronde 'n beslissing geneem word.

Daar kan dus met groot vrymoedigheid gestel word dat geen Skrifwaarhede deur variante lesings aangetas word nie. Bepaalde leerstellinge mag op die oog af deur sommige variante beïnvloed word. Maar geen Skrifwaarheid berus op een enkele teks (of variante lesing) nie maar op die getuienis van die Skrif as geheel. Vergelyk byvoorbeeld die verwysing na 1 Joh 5:7-8 by die vraag waarom sekere teksverse in bepaalde vertalings ontbreek. Wanneer daar in die tekskritiek tussen variante gekies word, berus die keuse nie op 'n waardeoordeel oor die inhoud van die variante as sodanig nie, asof sommige variante inherent vals of teologies onbetroubaar sou wees nie. Dié lesing word gekies wat volgens tekskritiese kriteria waarskynlik die naaste is aan wat in die outograaf (oorspronklike teks van byvoorbeeld Paulus) sou gestaan het.

Daar is in die laaste tyd heelwat navorsing oor die tydperk van die papiri (vóór die groot 4de eeuse perkament manuskripte) asook oor die rol van mondelinge oorlewering gedoen. Dit blyk dat daar soveel ooreenkomste tussen p75 (3de eeu) en kodeks Vaticanus (4de eeu) is dat beide van 'n ouer en noukeurige manuskrip afstam. Die talle foute wat wel in p75 voorkom is die werk van 'n ervare en betroubare afskrywer, maar wat wel by tye agtelosig was, veral in sinne met 'n eenvoudige sinstruktuur. Moeiliker sinne is gewoonlik baie noukeurig oorgeskryf.

In die vroeë kerk het mondelinge oorlewering van die teks van die Bybel sonder twyfel nog 'n groot rol gespeel. Dit is daarom interessant om te let op Klemens van Aleksandrië († 215) wat 'n lang aanhaling uit Mark 10:17-31 gebruik in sy Quis dives salvetur (Watter ryke kan gered word) 4:4-10 en wat beslis die letterlike teks van die Markus wil aanhaal. Daar is heelwat veranderinge aan die teks van Markus: harmonisering van Markus se teks met ander Evangelies, gebruik van sinonieme, byvoegings tot en weglatings uit die teks. Die veranderings hang waarskynlik met niks anders saam nie as die snelheid waarmee Klemens dikteer het. Dit is duidelik dat die besonder noukeurige Klemens nie hierdie "kleiner" wysigings aan die teks as so belangrik beskou het dat hy dit laat korrigeer het nie en dat hy blykbaar aanvaar het dat sy lesers (wat die teks op grond van mondelinge oorlewering goed moes geken het), dit blykbaar ook nie as so belangrik sou beskou het nie. Dit bevestig dat die groot aantal kleiner wysiginge in die variante lesings in die vroeë kerk dalk nie so ernstig opgeneem sou gewees het nie.

wat is die Textus Receptus?


Daar is nie 'n manuskrip wat as die Textus Receptus bekend staan nie. Die term Textus Receptus verwys gewoonlik na bepaalde gedrukte uitgawes van die Griekse Nuwe Testament wat basies berus op die eerste Griekse uitgawe van die Nuwe Testament wat op die mark beskikbaar was. Erasmus het binne tien maande op versoek van en onder groot druk van die Switserse drukker Frobenius die uitgawe voltooi wat in 1516 deur Frobenius in Basel gepubliseer is. Frobenius was besonder haastig omdat hy bewus was van 'n Griekse Nuwe Testament (wat as deel van die Complutensiese Veeltalige Bybel) reeds in 1514 deur die Spaanse kardinaal Ximenes gedruk is. Frobenius wou egter die eerste op die mark wees met 'n gedrukte Griekse Nuwe Testament.  Omdat Ximenes se uitgawe tot in 1521 op Pouslike goedkeuring moes wag, het dit eers ná Erasmus s'n in 1522 verskyn.

Erasmus het slegs ses (sommige onvolledige) manuskripte tot sy beskikking gehad. Sy oudste manuskrip (kodeks 1) was uit die 10de eeu maar hy het dit nie baie gebruik nie. Vir die Evangelies het hy vier manuskripte gehad, en die oudste was so laat as uit die 15de eeu. Vir Openbaring het hy net een manuskrip (12de eeu) gehad waarvan die laaste bladsy ontbreek het. Hy moes dus die laaste ses verse van Openbaring sommer uit die Latynse Vulgaat terugvertaal na die Grieks sonder om enige Griekse manuskrip-getuienis beskikbaar te hê. Ook Hand 9:6 het hy so uit die Latynse Vulgaat na die Grieks terugvertaal en op hierdie wyse het dit deel van die Griekse teks geword. Erasmus se tweede uitgawe van 1519 was die basis van Luther se vertaling. Sy derde uitgawe (1522) het die basis geword van die sogenaamde Textus Receptus. Daar was talle foute in hierdie uitgawe en dit is dikwels hersien, onder meer deur Robert Estienne (Stephens/Stephanus) en ook Theodore Beza.

Stephanus se vierde uitgawe van 1551 en Beza se teks het gaandeweg as die Textus Receptus bekend geword, hoewel die term Textus Receptus eers in die voorwoord van die tweede uitgawe van die Elzevir broers se Griekse NT (1633) in Nederland gebruik is. Daar stel hulle dat dit die "teks (textum) is wat deur almal aanvaar (receptum) word en waarin niks verander of gekorrupteer is nie". So het hierdie toevallige aanspraak in hulle voorwoord die term geword waarmee na die tekstradisie verwys word wat basies teruggaan op Erasmus 'n eeu vroeër.

is die Textus Receptus en die "Majority Text" dieselfde


Die Textus Receptus en die sogenaamde Meerderheidsteks ("Majority Text") moet nie verwar word nie. (Kyk die antwoord op die vraag oor die Textus Receptus). Die benaming Meerderheidsteks is afkomstig van ZC Hodges en A Farstad, The Greek New Testament According to the Majority Text (1982).

Die Meerderheidteks is net soos die Textus Receptus ook nie 'n enkele teks/manuskrip nie maar gebaseer op honderde Bisantynse kursief/kleinletter manuskripte uit die elfde en twaalfde eeue. Dit is ook die rede waarom dit soveel ooreenkomste met die Textus Receptus vertoon. Die teks verskil ongeveer drie tot vier keer per bladsy van die Griekse teks van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (United Bible Societies) en heelwat meer in Openbaring. Daar is ook ongeveer 6 500 verskille met die Nestle-Aland27 teks. Dit kom wel 678 keer ooreen met een van hierdie ander teksuitgawes. Aangesien die Meerderheidsteks gebaseer is op die meerderheid van alle bekende Nuwe Testament manuskripte, verskil dit min (ongeveer 327 keer) van die Textus Receptus. Daar is wel 1 005 verskille van die teks van die King James Version. In die New King James Version (NKJV) is 'n lys van verskille met die Meerderheidsteks en die Nestle-Aland en Wêreldbond van Bybelgenootskappe tekste aangedui.

Dit is interessant dat by bepaalde tekste (soos Hand 8:37 en 1 Joh 5:7-8) ten opsigte waarvan dikwels vrae gevra word oor die sogenaamde "weglatings" in die 1983-vertaling, in die NKJV met notas daarop gewys word dat hierdie tekste ook in die Meerderheidsteks ontbreek.

waarom ontbreek sekere teksverse in die 1983-vertaling wat wel in die 1933/1953-vertaling voorkom?


Dit is bekend dat daar bepaalde verse in die 1983-vertaling ontbreek wat wel in die 1933/1953-vertaling voorkom. Enkele bekende voorbeelde is Hand 8:37; Matt 6:13; 1 Joh 5:7-8. Waarom is dit gedoen?

In antwoorde op vorige vrae is reeds gewys op die groot verskeidenheid teksgetuies uit baie eeue met baie variante lesings waaruit die bronteks van die Nuwe Testament saamgestel kan word.

Daar is ook reeds verduidelik wat die Textus Receptus is en dat met die ontstaan van die King James Version en die Nederlandse Statevertaling dit die enigste beskikbare gedrukte bronteks vir die Griekse Nuwe Testament was.

Met die voorbereiding van die 1933/1953-vertaling was die vertalers goed bewus daarvan dat daar reeds vanaf die negentiende eeu betroubaarder brontekste beskikbaar was as wat die vertalers van die Statevertaling gebruik het. Hulle het egter doelbewus besluit om nie af te wyk van die teks wat vir die Statevertaling as bronteks gedien het nie (Textus Receptus). Daar was reeds baie weerstand teen 'n Afrikaanse vertaling, en die Bybelvertalers - reg of verkeerd- het geredeneer dat die leserspubliek nie albei hierdie veranderings gelyktydig sou kon verwerk nie. Daarom het hulle besluit om eers die taal te verander, van Nederlands na Afrikaans, en om dan by 'n latere geleentheid aan die bronteks aandag te gee. Die Bybel met verklarende aantekeninge (1958) het later doelbewus probeer bydra om die oorgang tot die gebruik van 'n suiwerder bronteks te maak, en om die lesers vir 'n latere nuwe vertaling voor te berei.

Dit is teen hierdie agtergrond wat byvoorbeeld die "weglating" van Hand 8:37 gesien moet word. Toe Erasmus die gedrukte teks van die Nuwe Testament voorberei het in 1515-16, het hy slegs enkele laat Middeleeuse manuskripte tot sy beskikking gehad. In die een manuskrip van Hand het 8:37 ontbreek, terwyl dit in die ander duidelik eers later as 'n invoeging net in die kantlyn ingeskryf is. Tog het Erasmus dit in sy teks opgeneem omdat hy gemeen het dat deur die agtelosigheid van 'n vorige afskrywer moes uitgeval het. Dit ontbreek egter in al die beste manuskripte. Daarom ontbreek die vers (wat eintlik 'n invoeging in die teks was!) in alle resente vertalings wat op die beste bronteks teruggaan.

Dit geld ook van 1 Joh 5:7-8. Die woorde wat weggelaat is na die "drie wat getuig",  dit wil sê: "in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; 8 en daar is drie wat getuig op die aarde" kom nie in die beste manuskripte voor nie. Dit was wel aanwesig in die minder goeie tekstradisie waarop al die eerste vertalings (Nederlandse Statevertaling, King James Version) berus het, die Textus Receptus. Dit is is net in 9 baie laat manuskripte aanwesig, die meeste uit die 18de eeu, enkeles uit die 16de eeu, met die "oudste" manuskrip uit die 10de eeu. Van die 9 manuskripte het vier boonop die betrokke woorde ook slegs in die kantlyn as 'n kantaantekening. Vergelyk hiermee die mees betroubare manuskripte wat veel ouer is en uit die 2de tot 4de eeu dateer en waarin dit ontbreek. Erasmus het ten spyte van alle kritiek tot en met sy tweede uitgawe (1519) geweier om die lesing op te neem sonder 'n Griekse manuskrip as teksgetuie en net op grond van die Latynse Vulgaat. Uiteindelik het hy dit wel in sy derde uitgawe (1522) opgeneem toe kodeks 61 uit die 16de eeu(!) met die lesing daarin aan hom getoon is. Daar is trouens 'n sterk vermoede dat die betrokke lesing ontstaan het toe 'n vroom afskrywer juis hierdie bekende woorde as fundering van die belydenis van die Drie-eenheid in die teks ingevoeg het. So dit wat in die 1983-vertaling na 'n "weglating" lyk, was in feite 'n "invoeging" wat Erasmus eintlik teen sy sin gedoen het.

Dit beteken natuurlik glad nie dat die kerke wat die 1983-vertaling (of ander vertalings gegrond op goeie brontekste) gebruik nie meer die Drie-eenheid van God aanvaar en bely nie. (Vergelyk al die Engelse gelowiges wat Engelse vertalings gebruik waarin 1 Joh 5:7-8 ook ontbreek). Die Drie-eenheid word bely op grond van die boodskap van die Bybel as geheel en nie op grond van enkele tekste nie.

is die bronteks van die Nuwe Testament basies Westcott en Hort se teks of net een Griekse manuskrip?


Sommige beweer dat die bronteks van die 1983-vertaling en hierdie projek bloot die uitgawe van Westcott en Hort (1881) of die kodeks Sinaiticus is.

Vergelyk die antwoord op die vraag: Watter brontekste word gebruik. Dit is belangrik om te weet dat reeds die Nestle-Aland (1979) teks 551 keer van Westcott en Hort verskil het en dat 54% van hierdie verskille ooreenstem met lesings van die Textus Receptus. Die Textus Receptus lesings word dus geensins onderspeel nie.

het die teoretiese benadering van tekskritiek in die afgelope jare verander?


Deur die jare was daar verskillende teorie om die verskeidenheid tekstradisies van die Nuwe Testament te probeer verklaar. Daar is vir lank groot gewig toegeken aan die ouderdom en geografiese oorsprong van tekste (eksterne gegewens). Hoewel dit oor die algemeen vanselfsprekend is dat ouer manuskripte nader aan die oorspronklike dokumente behoort te staan en dus as meer betroubaar beskou kan word, is dit wel waar dat later (jonger) manuskripte tog ook tekstradisies kan beliggaam wat ouer en beter is as bepaalde lesings in ouer manuskripte. Dit beteken egter nie dat daarmee alle lesings van die Textus Receptus of die Meerderheidsteks aanvaar kan word nie. Maar daar is deesdae groter erkenning daarvoor dat daar wel ook "oorspronklike lesings" in die Textus Receptus of die "Majority Text" aanwesig kan wees.

Verder word deesdae op 'n meer eklektiese wyse van eksterne en interne getuienis gebruik gemaak en nie bloot net een tekstradisie gevolg nie. Tog moet onthou word dat in die tekskritiek teksgetuies nooit bloot getel kan word nie, maar dat alle gegewens geweeg en beoordeel moet word. Die rede waarom daar so 'n groot getal manuskripte van die Bisantynse tradisie (Textus Receptus) behoue gebly het, is waarskynlik omdat in die loop van eeue in Egipte steeds minder Grieks gelees is en in die Weste steeds meer van Latyn gebruik gemaak is. Van die 6de tot die 14de eeu is die meerderheid Griekse manuskripte dus in Bisantium vervaardig, uiteraard verteenwoordigend van dieselfde tipe teks. Die navorsing oor en die teoretiese gesprek oor die rekonstruksie van die bronteks sal egter steeds indringend voortgesit word.

Die vertalers van die ABV maak groot erns daarvan om met net die heel beste oorspronklike Bybelteks te werk.

Die vraag na die bronteks vir die NT is reeds beantwoord. Kortliks net weer:

Nuwe Testament
Die Griekse teks wat in die vierde uitgawe van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se Greek New Testament (UBS4 rev) van 1994 gedruk is, word as vertrekpunt gebruik.

Saam met die UBS4 rev word ook die 1983-uitgawe van die UBS Greek New Testament  (UBS3 corr) en die 26ste en 27ste uitgawes van Nestle-Aland se Novum Testamentum Graece, gebruik.

Die volgende riglyne is ook aan vertalers gegee:

  • Oor die algemeen word die A- en B-lesings van UBS3 corr gehandhaaf. Waar daar egter in die resente vakliteratuur geldige argumente uitgemaak is ten gunste van 'n ander lesing as die A- en B-keuses, word daaraan oorweging geskenk.

  • Waar die WBG-samestellers 'n C- of D-gradering aan hulle tekskeuse toeken, word die keuses van die tweede uitgawe van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap se Griekse NT (BFBS2); en die Greek New Testament According to the Majority Text (GNTMT) oorweeg, veral waar hierdie twee uitgawes eenstemmig is. Ook in sulke gevalle behoort nuwe lig vanuit die vakliteratuur in berekening gebring te word.

waarom word daar beweer dat Christus in hierdie beplande vertaling uit die Ou Testament wegvertaal gaan word?


Dit hou verband met die feit dat kleinletters gebruik sal word in gedeeltes in die Ou Testament wat deur die Nuwe Testament as Messiaanse profesie verstaan word. Dit is nie 'n nuwe besluit nie, maar is reeds in die 1983-vertaling so gedoen. Vergelyk byvoorbeeld "My dienaar"(1983-vertaling) met "my Kneg" (1953-vertaling) in Jes 52:13. Dit is interessant dat die bekende Nederlandse Statevertaling ook nie hoofletters gebruik het in hierdie tekste nie.

Lees gerus verder wat die agtergrond hiervan is.

Die gebruik van hoofletters in Ou-Testamentiese gedeeltes wat in die Nuwe Testament as verwysings na die Messias aangedui word.

  1. Inleiding en oriëntering

    Die kerk het van die vroegste tye af sekere gedeeltes in die Ou Testament verstaan as verwysings na Jesus Christus en die werk wat Hy sou kom doen. Dit het trouens al in die heel eerste gemeentes gebeur en die spore daarvan lê duidelik in die Nuwe Testament.

    Die vertalers van die Nederlandse Statevertaling het telkens in die Ou Testament met notas in die kantlyn aangetoon watter tekste in die Nuwe Testament aangedui word as verwysings na die Messias. Die vertalers het egter nie hoofletters gebruik in die gedrukte teks van die Statevertaling nie. Selfs ook in effens latere uitgawes van die Statevertaling wat nie van notas of voetnote voorsien was nie, word daar nie hoofletters gebruik in Ou-Testamentiese tekste wat volgens die Nuwe Testament op die Messias betrekking gehad het nie. Vanaf die begin van die twintigste eeu (ons is onseker van die presiese uitgawe se datum) toe voetnote en kantaantekeninge heeltemal weggelaat is, 1 is die gebruik egter gevestig om gedeeltes in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament as Messiaanse verwysings aangedui word, in die vertaling weer te gee deur hoofletters in die setwerk te gebruik. Dit is gedoen in die geval van benamings (vgl bv Jesaja 9:5) en ook in die geval van direkte pronominale verwysings (dit wil sê "hy" en "hom") wat volgens die Nuwe Testament op Jesus Christus betrekking gehad het. So byvoorbeeld is die woord "kneg" in Jesaja 53 in die weergawe van 1892 nog met 'n klein letter gedruk, maar in die uitgawes van ná 1900 word dit met 'n hoofletter gedruk asook die pronominale verwysings na die "kneg". Die drie Nederlandse vertalings wat tans baie wyd in gebruik is in die Nederlandssprekende wêreld, naamlik Bijbel Vertaling 1951, De Bijbel (Willibrord hersiene uitgawe 1995) en De Nieuwe Bijbelvertaling 2004, gebruik egter geen sodanige hoofletters in Jesaja 53 nie. Die 1933-Afrikaanse vertaling, sowel as die hersiene weergawe van 1953 het die gebruik wat die Statevertaling ná 1900 gevestig het, nagevolg. Die Nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 het egter teruggekeer na die gebruik van klein letters soos wat dit vir eeue gegeld het, en het slegs benamings of titels wat as eiename gebruik is, met hoofletters gedruk.

  2. Wat van die bronteks en ander vertalings?

    Dit is algemeen bekend dat die Hebreeuse taal nie enige "hoofletters" gebruik nie en dat slegs in enkele uitsonderlike gevalle (bv Deut 6:4) van 'n paar vergrote letters gebruik gemaak word in die gedrukte weergawes van die Hebreeuse teks.

    Die oudste volledige vertalings van die Ou-Testamentiese boeke is natuurlik in Grieks gedoen. Hierdie vertalings wat in die Septuaginta neerslag gevind het, was die Heilige Skrifte van die Nuwe-Testamentiese skrywers. Dit is onder andere duidelik uit Ou-Testamentiese aanhalings in die Nuwe Testament. Grieks het wel vanaf 'n sekere stadium die moontlikheid gehad om "hoofletters" te gebruik. So byvoorbeeld is Griekse tekste van die Septuaginta vanaf die vierde tot die negende eeu volledig in hoofletters geskryf (in die sogenaamde majusculus manuskripte). Sedert die Middeleeue was die gebruik van klein letters (in die sogenaamde minusculus manuskripte) weer in gebruik. Dit is opvallend dat nie in een enkele geval daar in die Griekse vertalings van die Ou Testament 'n verskil in skryfwyse is in gedeeltes wat in die Nuwe Testament as verwysings na of beloftes van die koms van die Messias aangedui word nie. Ook in die uitgawe wat vandag algemeen beskou word as 'n betroubare weergawe van die Ou Testament in Grieks wat die vroeë kerk oor baie jare gebruik het, naamlik dié van Alfred Rahlfs, word hoofletters gebruik vir eiename, maar nie vir voornaamwoorde in dele soos Jesaja 53 nie. Dit geld trouens vir alle dele in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament Messiaans gedui word2. Dieselfde geld ook vir die Latynse vertalings wat eeue lank in die kerk gebruik is.

    Selfs in die vertaling van Martin Luther en die hersiene weergawes daarvan, word hoofletters nie gebruik by voornaamwoorde wat verwys na die "kneg" in Jesaja 53 nie. Dieselfde geld ook in 'n baie hoë mate vir Engelse vertalings. Van die talle Engelse vertalings wat algemeen beskikbaar is,  gebruik die volgende nie hoofletters nie: Contemporary English Version, English Standard Version 2001, Good News Bible, King James, The Message, The Net Bible, The New American Bible, New Century Version, New International Version, New Jerusalem Bible, New Living Translation, New Revised Standard Version, Revised Standard Version, 1890 Darby Bible en American Standard Version. So ver vasgestel kon word, gebruik slegs die New American Standard Bible, New King James Version, Young's Literal Translation en die Holman Christian Standard Bible hoofletters in Jesaja 53.

    Dit is dus duidelik dat die gebruik van hoofletters in die Ou Testament om vir lesers aan te dui dat 'n bepaalde gedeelte in die Nuwe Testament aangedui word as 'n verwysing na Jesus Christus (naas die paar Engelse vertalings) hoofsaaklik beperk is tot uitgawes van die Nederlandse Statevertalings wat ná 1900 gedruk is, sowel as die Afrikaanse vertaling van 1933 (hersien in 1953), wat die gebruik van die Statevertalings van ná 1900, nagevolg het.

  3. Die Afrikaanse Bybelvertalingsprojek waaraan tans gewerk word

    By die samestelling van die Werkboek waarin die praktiese uitvoering van die Vertaalopdrag vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling (BDV) vooraf beplan is, is die hele vraag oor Ou- Testamentiese gedeeltes wat in die Nuwe Testament as beloftes van of verwysings na Christus gesien word, volledig bespreek. Die samestellers van die Werkboek aanvaar dat die Nuwe Testament sonder enige twyfel op bepaalde plekke in die Ou Testament naas die gewone betekenis ook 'n "verborge" of "dieper betekenis" 3 as verwysings na Christus en dit wat Hy sou kom doen, gesien het. Die vraag wat dus by die samestelling van die Werkboek op die tafel was, was die volgende: Moet die "verborge" of "dieper" betekenis van 'n teks (of selfs net enkele woorde) in die Ou Testament neerslag vind, met die gevolg dat die betekenis in die Ou-Testamentiese verband op die agtergrond skuif; of moet die betekenis in die Ou-Testamentiese verband vertaal word met die gevolg dat die Nuwe-Testamentiese verstaan van die teks, nie aangedui word nie? Dit was duidelik dat dit onmoontlik is om sowel die betekenis in die Ou-Testamentiese verband as die dieper betekenis tegelyk te verwoord of in druk aan te dui in die vertaling. Buitendien is 'n vertaling wat slegs die Nuwe-Testamentiese betekenis probeer weergee dan nie meer 'n getroue weergawe van die Ou-Testamentiese bronteks nie. En daarvan (naamlik dat dit 'n getroue weergawe van die bronteks moet wees) wil die vertalers en die Bybelgenootskap nie een oomblik afwyk nie.

    Die probleem kan kortliks geïllustreer word aan die hand van 'n voorbeeld. In Hosea 11:1 staan daar die bekende woorde (volgens die 1953-vertaling): "Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep." Dit verwys sonder enige twyfel na die twaalf stamme van Israel wat deur Moses uit Egipte uitgelei is. Dit is die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1, en in die 1953-vertaling is "seun" tereg nie met 'n hoofletter gedruk nie. Volgens Matteus 2:15 bevat Hosea 11:1 egter 'n profesie wat verwys na die kind Jesus se terugkeer uit Egipte saam met Josef en Maria ná die dood van Herodes. Op grond daarvan het die vertalers in 1933/53 en in 1983 "Seun" in Matteus 2:15 met 'n hoofletter laat druk. Dit is egter onmoontlik om die teks in Hosea 11:1 deur die gebruik van hoofletters vir die leser as 'n verwysing na Christus aan te dui sonder verlies van die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1. Dit is inderdaad nie moontlik om sowel die betekenis in die verband van Hosea as die dieper betekenis in die verband van die Bybel as geheel in 'n vertaling van die Ou Testament gelyktydig in taal, asook setwerk (hoof- en kleinletters) uit te druk nie. Daar is baie ander gevalle wat as voorbeelde sou kon dien, onder andere Efesiërs 5:31 waar die skrywer Genesis 2:24 aanhaal en dan in vers 32 stel dat daar 'n misterie, dit wil sê 'n verborge betekenis, in daardie woorde opgesluit lê.4 Die skrywer sê egter ook baie duidelik dat die gewone betekenis steeds geld (vgl vs 33). Alhoewel dit nie na Christus verwys nie, sou die apostel Paulus se verwysing na Sara en Hagar in Galasiërs 4:20 tot 30 ook as voorbeeld kon dien van 'n simboliese (en in hierdie geval allegoriese) betekenis wat in die Nuwe Testament aan die Ou Testament geheg word. Iets wat immers nie in die teks (taal en setwerk) van 'n vertaling van die Ou Testament verwoord of aangedui kan word nie.

    Omdat die samestellers van die Werkboek egter wel die Nuwe-Testamentiese verstaan van bepaalde gedeeltes in die Ou Testament eerbiedig, is besluit om in die Afrikaanse vertaling waaraan tans gewerk word, al daardie gevalle waar die Nuwe Testament 'n verwysing na Christus in 'n teks of woorde uit die Ou Testament sien, in die Ou Testament met 'n voetnoot te merk. Sodoende word die leser se aandag pertinent gevestig op die Nuwe-Testamentiese verstaan van die bepaalde teks of woorde en dí­t sonder verlies van die betekenis in die Ou-Testamentiese verband. Daarmee word in 'n sekere sin terugbeweeg na die gebruik wat die vertalers van die Statevertaling aanvanklik gevestig het. Hierdie benadering geld slegs daardie gevalle waar in die Nuwe Testament hierdie "dieper" betekenis aangedui word en beslis nie daardie gevalle waar ander interpreteerders of dogmatici simboliese of dieper betekenisse in die Ou Testament vind nie.

  4. Die verskil tussen dogmatiese besinning en vertaling

    Elkeen wat al sy of haar hand gewaag het aan die vertaling van ou tekste uit 'n ander kulturele omgewing, sal weet dat interpretasie van daardie tekste by die voorbereiding van die vertaling onvermydelik is. Dit word vandag ook allerweë erken dat niemand sonder enige voorveronderstellings kan vertaal nie. Elke vertaler moet daarom ook bewus wees van die gevare verbonde aan eie voorveronderstellings en dogmatiese oortuigings, veral in die geval van religieuse tekste waar die dogmatiese oortuigings van die vertaler baie maklik die teks iets anders sou kon laat sê as wat werklik in die bronteks geskryf staan.

    'n Voorbeeld hiervan is Genesis 3:15 ("Hý sal jou die kop vermorsel en jý sal hom in die hakskeen byt". Die woord "vermorsel" (in Hý sal jou die kop vermorsel", vgl die 1953-vertaling) is geïnterpreteer as 'n belofte van Jesus Christus se toekomstige oorwinning oor die slang, naamlik Satan. Sodanige interpretasie van die teks hou egter nie rekening daarmee dat die Hebreeuse werkwoord wat met "vermorsel" vertaal is, dieselfde is as die werkwoord wat die aksie van die slang beskryf nie (met ander woorde die woord "byt" in "jý sal hom in die hakskeen byt"). Die Hebreeuse werkwoord wat in albei gevalle gebruik word (naamlik shuf) beteken "beetpak" of "aanval". Daarom het die vertalers van die Septuaginta ook in albei gevalle presies dieselfde werkwoord gebruik. Die vertalers van die 1933-vertaling het, nieteenstaande die feit dat die een Hebreeuse woord met twee verskillende werkwoorde vertaal is (nl "vermorsel" en "byt") ook nie Genesis 3:15 as 'n verwysing na Jesus Christus verstaan nie (vgl die gebruik van die kleinletter "hom" in "jý sal hom in die hakskeen byt").

    Uit hierdie voorbeeld is dit duidelik dat dogmatiese besinning in die lesingsaal en op die kansel sy plek het, maar dat dit vermy moet word by die vertaling van die Bybel,5 iets wat immers ook deur verskeie vertaalteorieë aangedui word. Die Werkboek van die BDV bevat daarom die volgende bepaling:

    "Teologiese kommentare moet egter met omsigtigheid hanteer word aangesien die gevaar bestaan dat die teologiese oortuigings wat in die kommentaar neerslag gevind het, dominant kan word in die verstaan van die teks, terwyl dit die bepaalde tekseenheid in sy unieke wêreld en met sy unieke teksaanbod is wat bepalend behoort te wees. Die teks is belangriker as die dogmatiese besinning daaroor. Getrouheid aan die bronteks is van die uiterste belang en die eksegeet moet deeglik bewus wees van eie hermeneutiese voorveronderstellings."

  5. Samevatting

    In die lig van die voorafgaande is dit duidelik dat

    • vertalers bewus moet wees van die gevaar van eie voorveronderstellings,

    • daar 'n verskil is tussen die bronteksgetroue vertaling van 'n teks en dogmatiese besinnings oor 'n teks,

    • die betekenis van 'n teks in sy Ou-Testamentiese verband en die moontlikheid wat die teks bied tot 'n simboliese interpretasie of die "dieper" betekenis wat die Nuwe Testament daarin gesien het, nie gelyktydig in 'n vertaling weergegee kan word nie,

    • die gebruik om met hoofletters bepaalde gedeeltes in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament as verwysings na die Messias aangedui word, as sodanig te merk, in die vertaaltradisie waarby Afrikaanse vertalings aansluit, 'n baie beperkte omvang het, naamlik slegs 'n paar Engelse vertalings, die gedrukte Nederlandse Statevertalings van ná 1900 en die Afrikaanse vertaling van 1933 asook die hersiene uitgawe van 1953.

  6. Ten slotte

    Die besluit om in die Afrikaanse vertaling waaraan daar tans gewerk word, nie hoofletters te gebruik vir die merk van bepaalde dele in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word nie, maar om dit wel in die vertaling van die Ou Testament met voetnote aan te dui, is dus met groot verantwoordelikheid geneem en met in ag neming van die geskiedenis van vertalings uit die bronteks, van vertaalteorieë en van die opdrag aan die vertaler om die bronteks getrou te vertaal en nie die primêre betekenis óf aan te tas óf te verskraal nie.


    Enige bewering dat daar 'n doelbewuste poging by die medewerkers aan die huidige Afrikaanse Bybelvertalingsprojek is om "Christus uit die Ou Testament te verwyder" is onwaar en oningelig. Dit hou nie rekening met die feite wat op die tafel is nie.

 

1

Die vraag na weergawes van die Statevertaling wat nie so dik en onhanteerbaar was nie, het waarskynlik hierdie weglatings genoodsaak.

2

Vgl bv Jesaja 7:15

3

Die woorde "dieper betekenis" is 'n breë aanduiding vir wat in die Nuwe-Testamentiese uitleg van die Ou Testament as profesie, dit wil sê belofte-vervulling (vgl Mat 1:22-23) verstaan, of ook as tipologie en allegorie uitgelê word (vgl vir laasgenoemdes bv Rom 5:14 en 1 Kor 10:1-4).

4

In Grieks word die woord mustërion gebruik wat in Latyn met sacramentum vertaal is. In die Rooms-Katolieke sowel as Protestantse kerklike tradisies is dit verstaan as 'n verwysing na die huwelik. Uit die konteks is dit egter duidelik dat dit eerder na die woorde in Gen 2:24 verwys.

5

'n Eerlike vertaler kan byvoorbeeld vas oortuig wees daarvan dat die Heilige Gees die skrywers van die Nuwe Testament gelei het in hulle verstaan van die Ou Testament, maar sal dit nie in die vertaalde teks van die Ou- of Nuwe Testament "inskryf", tensy dit duidelik in die bronteks staan nie.

verduidelik hoe die werk gedoen sal word


Die vertaling verloop in vyf fases.

In die eerste fase werk 'n eksegeet (Ou of Nuwe Testamentikus) en 'n brontaalkenner (van Hebreeus of Grieks) saam en lewer dan 'n vertaling en uitgebreide aantekeninge aan 'n persoon wat 'n intravertaler genoem word. Dit is 'n opgeleide Afrikaanse taalpraktisyn (vertaler) of 'n erkende digter of kreatiewe skrywer wat die teks dan in goeie hedendaagse Afrikaans weergee. Die eksegeet waak steeds oor die getrouheid aan die bronteks.

In die tweede fase gaan die teks na Afrikaanse taal- en letterkundiges wat nagaan of die teks wel goed verstaanbare Afrikaans is, waarna die eerste eksegeet en intravertaler weer seker maak dat die vertaling steeds getrou is aan die bronteks. Hierna word die teks deur die Redaksionele Komitee nagegaan.

In die derde fase word die teks vir kommentaar en voorstelle na lesers gestuur wat deur die meewerkende kerke benoem is. Die vertaling sal ook op die Bybelgenootskap se webblad en op ander maniere onder ander groepe lesers se aandag gebring word. Hierna word die kommentaar verwerk en weer aan die Redaksionele Komitee voorgelê.

Hierna volg die belangrike vierde fase waarin die konsekwentheid van die vertaling in bepaalde versamelings boeke (soos die eerste vyf boeke van die Ou Testament, die evangelies, die briewe van Paulus) gekontroleer word, asook die konsekwentheid van vertaling tussen die Ou en die Nuwe Testament.

In die vyfde fase word die teks deur die Begeleidingskomitee gefinaliseer.

hoe sal die beoogde vertaling verskil van die huidige Afrikaanse Bybelvertalings?

  • Alhoewel die beplande vertaling 'n vertaling sal wees waarin die bronteks so getrou moontlik weergegee word, sal dit nie 'n woord-vir-woord vertaling wees soos die 1933/53-vertaling nie. In die nuwe vertaling sal daar groter klem gelê word op die weergee van die bronteks in vloeiende Afrikaans as wat by woord-vir-woord vertalings die geval is.

  • Die beplande vertaling sal minder as die 1983-vertaling aangepas word by die leefwêreld van vandag. Metrieke mate en gewigte sal byvoorbeeld nie in die vertaling gebruik word nie, maar wel die terme wat nader aan die brontaal lê, soos byvoorbeeld sikkels, handbreedte, el en dagreis.

  • Anders as in die 1933/53- en die 1983-vertaling van die Bybelgenootskap sal voetnote gebruik word om kort verduidelikings aan die leser te gee ten opsigte van sake soos byvoorbeeld probleme in die bronteks of verskillende geldige vertalingsmoontlikhede. Voetnote is reeds omvangryk gebruik in Die Bybel vir Dowes wat in Februarie 2008 deur die Bybelgenootskap gepubliseer is.

  • Groter klem op die vorm van liedere en gedigte sal meebring dat die eie aard van Bybelse poësie so ver moontlik behoue bly.

  • Die beplande vertaling sal, naas die gewone uitgawe, ook 'n uitgawe insluit wat die Deuterokanonieke Boeke bevat, aangesien die Rooms-Katolieke en Anglikaanse Kerke wat ook hulle ondersteuning aan die projek toegesê het, hierdie boeke gebruik. (Daar bestaan reeds 'n uitgawe van Die Bybel met Deuterokanonieke Boeke waar die Deuterokanonieke Boeke opgeneem is in die 1933/53-vertaling.)

  • Die werkwyse in die geval van die beplande vertaling verskil ook aansienlik van vorige vertalings van die Bybelgenootskap. Vir die eerste keer word alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, by die vertaalproses betrek. Anders as by vorige Afrikaanse vertalings speel professionele Afrikaanse vertalers, letterkundiges en taalkundiges 'n wesenlike rol naas eksegete en brontaalkenners. 'n Groot aantal vroulike medewerkers is ook deel van die vertaalspanne.