Gedurende Augustus 2008 is 'n proefvertaling van 'n paar gedeeltes in druk bekendgestel om saam te val met die viering van die 75-jarige bestaan van die Afrikaanse Bybel.

Intussen het die proses so gevorder dat boeke nou die een na die ander gereed is om ná Fase 2 aan kerklike lesers vir kommentaar gestuur te word, asook hier op die webblad aan die algemene publiek bekendgestel te word. Indien u nog oor die gedrukte 2008-proefvertaling beskik en steeds daarop kommentaar wil lewer, word u aangeraai om te wag tot die betrokke boek ná Fase 2 in sy geheel op die webblad geplaas word en dan u kommentaar op die nuutste teks te stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Daar is waarskynlik sedert 2008 veranderinge aan die teks aangebring.

Die Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling is gedurende 2014 by drie geleenthede bekendgestel — op 12 Maart in die Groote Kerk, Kaapstad, op 9 April in die AGS Kaleideo Gemeente in Kempton Park, en op 12 Mei in die St George's Katedraal in Windhoek. Hierdie publikasie is dus min of meer halfpad in die proses. Intussen is die kommentaar van kerklike lesers en lede van die publiek op die publikasie en die tekste wat hier geplaas is, ontvang.

Woorde waarvan die betekenis by die leser oor die algemeen as goed bekend veronderstel word, of wat dikwels in die vertaling voorkom en waarvan daar 'n verklaring gegee word in die woordelys wat aan die einde van die gedrukte Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling voorkom, word in die vertaling en voetnote met 'n • gemerk om die leser na die woordelys te verwys. Aangesien die woordelys egter tydens ons voortgaande werk voortdurend aangepas en uitgebrei word, het dit geen sin om dit tans op die webblad beskikbaar te stel nie.

Daar is intussen ook reeds ander boeke van die Ou Testament en Deuterokanonieke boeke voltooi, maar geen verdere tekste is aan kerklike lesers gestuur (en op die webblad geplaas) nie, aangesien daar eers aan kerklike en ander lesers die geleentheid gegee is om kommentaar op die gepubliseerde Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling te lewer.

Die Redaksionele Komitee Nuwe Testament (RKNT) het op Maandag 21 September 2015 sy werksaamhede in fase 3 afgesluit nadat alle kommentaar deur kerklike en ander lesers op die Nuwe Testament (hier beskikbaar en gepubliseer in die Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling) oorweeg is.

Dit mag dalk vreemd voorkom dat fase 3 van die Nuwe Testament afgesluit is, aangesien die publikasie van die Bybel as geheel - ongelukkig - nog nie om die draai is nie. Dit moet egter in ag geneem word dat daar nog heelwat werk vir die Redaksionele Komitee Ou Testament (RKOT) aan die einde van fase 2 voorlê. Verder moet alle kommentaar wat nog in fase 3 gelewer moet word deur lesers op die Ou Testament en die Deuterokanonieke boeke (waarvan die redigering deur die RKDK aan die einde van fase 2, DV gedurende November 2015 voltooi sal word), daarna in fase 3 deur die Redaksionele Komitees verwerk word. Hoewel daar drie Redaksionele Komitees is, dien sommige lede op al drie komitees, juis met die oog op die grootste moontlike mate van konsekwentheid in die drie korpusse. Vanjaar het daar weer 10 vergaderings van Redaksionele Komitees plaasgevind, telkens vir vyf dae aaneen. So daar moet eenvoudig nou eers 'n einde kom aan die werk van die RKNT in fase 3.

Die tekste van die Nuwe Testament in hulle geredigeerde vorm (aan die einde van fase 3) sal nou geleidelik weer hier vir kennisname verskyn. Verder sal daar nou ook weer meer gereeld tekste uit die Deuterokanonieke boeke en die Ou Testament (geredigeer deur die Redaksionele Komitees aan die einde van fase 2) aan die kerklike lesers gestuur en op die webblad geplaas word met die oog op oorweging van lesers se kommentaar deur die onderskeie Redaksionele Komitees in fase 3.

Daar moet steeds in gedagte gehou word dat in fase 4 daar nog konsekwentheidskontrole van die vertaling van terme, formules en andere, in die Bybel as geheel plaasvind. Dit beteken egter nie dat daar in fase 4 weer 'n volledige hersiening van die Bybel as geheel kan plaasvind nie. Die publiek – en almal betrokke by die BDV – is haastig dat die vertaling so gou moontlik moet verskyn. Daarna moet die Begeleidingskomitee in fase 5 die vertaling as geheel goedkeur (of waar ter sake wysig).

Vreemde terme

By 'n vergadering van die Begeleidingskomitee (die beleidskomitee van die projek) is op 21 Oktober 2015 indringend aandag gegee aan die gebruik van die 'vreemde terme' soos "chiliarg", "tetrarg" en terme vir mate en gewigte in die teks van die vertaling. Dit is interessant dat die kommentaar wat tot dusver hierop ontvang is, negatief sowel as positief is.

Ons sou graag wou verneem hoe u en ander lesers met wie u dalk die BDV saam lees, hieroor voel. Hierby moet u wel in ag neem dat die vertaalopdrag lui:

"Skep 'n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik."

Hierdie opdrag is verder omskryf as 'n vertaling wat 'n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.

Die BDV poog, as 'n direkte vertaling, om die leser eintlik in goeie, maar nie noodwendig algemeen gebruiklike of "moderne" Afrikaans nie, te verplaas in die leefwêreld van die Bybel. Om ʼn soortgelyke rede gebruik ook ander vertalings sedert die einde van die twintigste eeu steeds meer sulke 'vreemde' terme wat nie aan die hedendaagse woordeskat ontleen is nie, veral vir titels, mate, gewigte, sekere gebruiksvoorwerpe, en andere. Dit sluit juis aan by ons vertaalopdrag om nie slegs die beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks nie, maar ook die destydse (militêre) range, geldeenhede, mate en gewigte, sover moontlik in die vertaling te behou en nie met anachronistiese hedendaagse terme te vervang nie. 'n Riglyn wat die Redaksionele Komitee aansienlik help, is om wel woorde te gebruik wat reeds in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) opgeneem is. Van die terme vir destydse amptenare en range wat reeds in die gepubliseerde Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling voorkom, is dit net hekatontarg wat nie in die WAT (of ander Afrikaanse woordeboeke) voorkom nie. Dit is miskien ook goed om ook daarop te let dat vir die Godsname in die Ou Testament nie die Hebreeuse terme gebruik is nie, maar dit onder meer soos volg weergrgee is: "HERE", "God", "die Ontsagwekkende God", "die Allerhoogste God", "die Ewige God", "die Verbondsgod", "die HERE, Heerser oor alle magte" en "die HERE God, die Allerhoogste". Dit is ook nie moontlik om op dieselfde wyse in die Ou Testament en die Nuwe Testament vreemde terme te gebruik nie, vanweë die groter verwantskap tussen Grieks (Nuwe Testament) en Afrikaans.

Die Begeleidingskomitee het besluit dat "vreemde terme in die huidige teks van die Nuwe Testament voorlopig gehandhaaf word soos dit aan die einde van fase 3 op die webblad geplaas word, ook in die lig daarvan dat Ou-Testamentiese en Deuterokanonieke tekste tans in fase 3 aan lesers gestuur en op die webblad geplaas word." Lesers kan dan 'n beter beeld van die vertaling in die verskillende dele van die Bybel kry. In fase 4 word daar juis aan die konsekwentheid van die vertaling in die Bybel as geheel aandag gegee, en dan sal 'n finale besluit hieroor geneem word.

Ons verneem graag u kommentaar op die gebruik van vreemde terme. Stuur dit gerus aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. vir ons aandag. (Kerklik benoemde lesers wat reeds gereageer het, hoef dit nie weer te doen nie, behalwe as u nuwe insigte gekry het).

Tekste (einde fase 2) nou beskikbaar vir kommentaar :

 

 

Tekste (einde fase 3) SLEGS VIR KENNISNAME:

  BELANGRIKE OPMERKING

Tot dusvêr is tekste aan die einde van fase 3 op die webblad geplaas, nadat die kommentaar deur kerklike en ander lesers in fase 3 deur die onderskeie Redaksionele Komitees oorweeg is. Dit was in elk geval slegs vir kennisname. Ons is nietemin dankbaar teenoor lesers wat sedertdien hierdie tekste gelees het en tog nog kommentaar ingestuur het. Dit was waardevol, aangesien ons na aanleiding hiervan in enkele gevalle skryffoute kon regstel.

Weens ’n lys dringende take op die agenda van die departement wat verantwoordelik is om die pdf’s vir die webblad voor te berei, het daar op die webblad ’n redelike agterstand ontwikkel wat Ou-Testamentiese tekste betref wat almal reeds in fase 3 afgehandel is. Daar is dus tans nog net 16 boeke van die Ou Testament op die webblad beskikbaar.

Die hoofdoel van tekste op die webblad was om (benewens vir die kerklike lesers aan wie die tekste gestuur is) ook vir ander lesers die geleentheid te gee om daarvan kennis te neem en ook kommentaar te lewer, en dit het ruimskoots gebeur. Deur tekste ná fase 3 vir kennisname op die webblad te plaas, is gepoog om aan belangstellendes steeds ’n aanduiding te gee van die vordering in die projek.

Die punt is egter nou bereik waar die vertaling reeds in fase 4 vir konsekwentheid nagegaan is, en in fase 5 deur die Begeleidingskomitee as beleidskomitee goedgekeur is. Binnekort word die vertaling aan die Bybelgenootskap oorhandig vir verdere kontroles, die uitleg van die teks, en alle verdere prosesse van belang met die oog op die druk en publikasie van die vertaling. Die bekendstelling word beplan vir DV 29 November 2020 in Bloemfontein.

Tydens die kontrole van die konsekwentheid in fase 4, is daar uiteraard bepaalde veranderinge aan die teks of voetnote aangebring. Dit het dus nie sin om nou verder kosbare ure te spandeer aan die voorbereiding van die pdf’s van tekste wat die stand van sake aan die einde van fase 3 weerspieël nie, terwyl die finale teks daar anders kan uitsien. Ons vra dus u geduld om nou maar die publikasie van die vertaling saam met ons af te wag.

Intussen sal u voortgesette belangstelling, en veral u voorbidding vir die verdere prosesse tot aan die einde hoog op prys gestel word. Dit het al gebeur in die verlede gebeur dat die ontskeping van ’n skip vol Bybels weens storms op see of in die Kaap vertraag is

 

 


RIGLYNE VIR LESERS

Algemeen
Die kerke wat in die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika verteenwoordig is, het die vertaling van die Bybel aangevra. Hierdie kerke en denominasies is ook gevra om kerklike lesers te benoem om namens hulle onderskeie belangegroepe kommentaar op die voorgestelde vertaling te lewer.

Dit is egter vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika belangrik om ook kommentaar van die breër publiek te ontvang.

Met die oog hierop moet alle lesers rekening hou met die vertaalopdrag en ander afsprake soos deur die Begeleidingskomitee van die Afrikaanse Bybelvertalingsprojek goedgekeur.

Die vertaalopdrag wat deur KABA goedgekeur is, lui:
Skep ʼn goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.

Dit impliseer dus die volgende:
• Die vertaling moet spesifiek gerig wees op voorlesing in eredienste, op gebruik in kategese, Bybelstudie en die persoonlike lewe.
• Die vertaling moet ’n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou word.
• Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees vir lede van die kerke. Verklarende aantekeninge en/of voetnotas sal gebruik word om inligting te voorsien wat nie in die vertaling self voor die hand liggend is nie.

Terwyl dit duidelik is dat hierdie vertaling vir kerklike gebruik aangevra is, meen ons dat daar ook buite spesifiek kerklike kringe steeds ’n lewende belangstelling in die Bybel as ’n kulturele en literêre dokument bestaan. Daar is ook waarskynlik ’n groot aantal Suid-Afrikaners in die buiteland wat in hierdie projek belangstel en ook deur die internet van hierdie vertaling kan kennisneem.

Die reaksie van lesers sal derhalwe verwelkom word.

LET WEL:

• Dit is nog nie die finale goedgekeurde vertaling nie. Die vertaling kan nog gewysig word in die lig van kommentaar wat ontvang word. Alle boeke is ook nog nie vertaal nie. Verder word in Fase 4 (wat hierna volg) die konsekwente weergawe van parallelle gedeeltes en ander sake weer gekontroleer wanneer alle boeke van die Bybel vertaal is.
• Die finale bladuitleg, formatering en ander formele aspekte word ook nog nie in hierdie proefvertalings gereflekteer nie.

Werkwyse
Die vertaling wat op die webblad geplaas word, is tekste wat reeds deur die eerste twee fases van die proses gegaan het. Lees hier meer oor die vertaalproses. Dit beteken dat eksegete en brontaalkundiges in Fase 1 die betekenis van die bronteks as ’n direkte vertaling in Afrikaans weergegee het, en dat ’n opgeleide vertaler of kreatiewe skrywer/digter dit daarna in goeie Afrikaans geformuleer het, nog steeds in oorleg met die eksegeet wat waak oor die getrouheid aan die bronteks. In Fase 2 is die teks daarna deur ’n ander Afrikaanse taalkundige en ’n letterkundige nagegaan en daarna deur die Redaksionele Komitee gefinaliseer.

Lesers lewer kommentaar op die vertaling onder andere in die vorm van voorstelle vir alternatiewe. Hierdie kommentaar word aan die Redaksionele Komitee voorgelê vir oorweging en moontlike veranderinge aan die vertaling.

Aangesien daar moontlik heelwat kommentaar ingestuur sou kon word, volg hier ’n paar riglyne vir u kommentaar.

Let asseblief daarop die vertaalopdrag die hartklop van die projek is. Hierdie vertaalopdrag is biddend en na baie navorsing en besinning in samewerking met die kerke geformuleer. U kommentaar moet daarom so ver moontlik die vertaalopdrag as maatstaf gebruik:

• Is daar aspekte van die vertaling wat nie in ooreenstemming met die vertaalopdrag is nie?
• Watter totaalindruk maak die vertaling op u?
• Is daar aspekte van die vertaling wat nie konsekwent in ooreenstemming is met die res van die betrokke boek of die Bybel as geheel nie?
• Is daar voorbeelde waar die vertaling nie helder/duidelik is nie?
• Kan die leesbaarheid en die voorleesbaarheid verbeter word? In hierdie verband kan dit sinvol wees indien u die vertaling voorlees en toets aan ʼn groep belangstellendes.

Meer formele sake:

Die maksimum omvang van kommentaar is één gedrukte bladsy (A4-formaat) vir elke 5 hoofstukke. Ons aanvaar dat kommentaar elektronies gelewer sal word.

Lewer kommentaar in die volgende formaat:
• Algemene indruk van die vertaling, sien hierbo (net in ’n paar reëls). Illustreer met enkele voorbeelde uit die vertaalde teks.
• Spesifieke opmerkings oor die vertaling in die lig van bogenoemde.
• Spesifieke voorstelle, in die volgende formaat (onderstreep die betrokke woord en u voorstelle):
Teks: "In die begin was 'n woord ..."
Voorstel: "In die begin was die Woord ..."
Motivering: Bepaalde lidwoord is nie vertaal nie, "Woord" is hier 'n verwysing na Christus, daarom met 'n hoofletter.

Lesers se kommentaar per This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. en in 'n Word.rtf dokument sal waardeer word. Bogenoemde formaat bly geld. Stuur u kommentaar asseblief aan: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.).

Lesers kan geen regte laat geld op bydraes en voorstelle wat hulle tot die vertaling lewer nie.


JSN Solid is designed by JoomlaShine.com