Die gedrukte bronteks wat vir die vertaling gebruik word, is die resultaat van internasionale samewerking tussen vakkundiges wat in die Nuwe-Testamentiese tekskritiek spesialiseer. Dit is die wetenskap wat daarna streef om op grond van die beskikbare teksgetuies, 'n rekonstruksie te maak van die oorspronklike geskrifte van die Nuwe Testament (outograwe) waaroor ons nie meer beskik nie.
Daar is drie groepe teksgetuies (dokumente) wat gebruik kan word om vas te stel hoe die teks van die Nuwe Testament daar oorspronklik uitgesien het: Griekse manuskripte (handskrifte); ou vertalings van die Griekse Nuwe Testament in ander tale in die eerste eeue; aanhalings uit die Nuwe Testament in die geskrifte van die vroeë kerkvaders.
- Van hierdie teksgetuies is die Griekse manuskripte die primêre bron, en die ou vertalings en aanhalings meer sekondêr (indirek), maar tog ook waardevol. In 'n afsonderlike antwoord word meer inligting oor die Griekse manuskripte gegee.
- Met die uitbreiding van die evangelie het die behoefte aan verskillende vertalings van die Griekse Nuwe Testament vroeg reeds ontstaan. Dit het veral in die ooste (Sirië), Weste (Noord-Afrika, Suid-Frankryk en Italië) en Egipte ontstaan. Daar is dus verskillende Siriese, Latynse, Koptiese (Egipte), Etiopiese, Nubiese, Armeense, Georgiese en Gotiese vertalings.
- Aanhalings uit die Griekse Nuwe Testament by vroeë Christelike skrywers is ook belangrike teksgetuies, veral wanneer die skrywer se werk uit die tyd vóór ons oudste beskikbare manuskripte kom. Hierdie gegewens kan ook help om 'n teks te dateer en te lokaliseer.