Ons ontvang wisselende kommentaar oor die gebruik van leenwoorde of 'vreemde terme' wat in die BDV voorkom, soos in die volgende voorbeelde:

Matt 27:27: Toe het die soldate van die prokuratorc vir Jesus na die pretoriumd saamgeneem, en die hele kohort soldatee by Hom byeengebring.

c prokurator: Amptenaar wat namens die keiser in beheer was oor 'n Romeinse provinsie; •Romeinse ampsdraers.
d pretorium: Die bronteks lui: praitorion. Hier verwys dit na die vesting Antonia, waar die soldate gestasioneer was en die prokurator gedurende feestye tuisgegaan het..
e kohort soldate: 'n Afdeling Romeinse soldate wat uit 200 tot 1 000, maar gewoonlik 600 man, bestaan het; •Militêre terme.

Hand 23:17: Paulus het een van die hekatontargey laat roep en gesê: “Neem hierdie jong man na die chiliargx, want hy het iets om hom te vertel.”

y hekatontarg: 'n Griekse benaming vir 'n bevelvoerder oor 100; •Romeinse ampsdraers.
x chiliarg: 'n Romeinse offisier wat bevel voer oor 1 000; •Romeinse ampsdraers.

 

Ps 88:1:'n Lied. 'n Psalm. Van die Koragiete. Vir die •musiekleier. Op Magalat le-anoot.t 'n Maskiel.u Van Heman, die Esragiet.

t Magalat le-anoot: Oor die betekenis hiervan is daar onsekerheid. Magalat kan die naam van 'n melodie of 'n musiekinstrument wees, of dui op 'n musikale styl. Le-anoot beteken ‘om te sing’ of ‘om te ly’.
u Maskiel: 'n Tegniese term wat moontlik aandui dat die psalm vir onderrig gebruik is.

Vir die gebruik van leenwoorde, is dit belangrik om die vertaalopdrag in gedagte te hou:

 "Skep 'n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik."

Hierdie opdrag is verder omskryf as 'n vertaling wat 'n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.


Die BDV poog, as 'n direkte vertaling, om die leser eintlik in goeie, maar nie noodwendig algemeen gebruiklike of “moderne” Afrikaans nie, te verplaas in die leefwêreld van die Bybel. Om ʼn soortgelyke rede gebruik ook ander vertalings sedert die einde van die twintigste eeu steeds meer sulke 'vreemde' terme of leenwoorde wat nie aan die hedendaagse woordeskat ontleen is nie, veral vir titels, mate, gewigte, sekere gebruiksvoorwerpe, ensovoorts. Dit sluit juis aan by ons vertaalopdrag om nie slegs die beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks nie, maar ook die destydse (militêre) range, geldeenhede, mate en gewigte, sover moontlik in die vertaling te behou.


'n Riglyn wat die Redaksionele Komitees aansienlik help, is om wel woorde te gebruik wat reeds in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) opgeneem is. Dit is interessant dat in die voorbeeld uit Mat 27:27 hierbo die woorde 'prokurator' en 'kohort' reeds in die WAT voorkom. Hoewel 'pretorium' nie in die WAT opgeneem is nie, kom

pre´tor (-s)
Romeinse stadhouer, hoogste landdros
pre•to•ri•aan´ (pretoriane)
Lid van die Romeinse keiser se lyfwag. pretoriaans´

in Odendal, F. F. (Die Elektroniese Weergawe van Die Verklarende Handwoordeboek van Die Afrikaanse Taal. Midrand: Perskor Uitgewery, 1994) en in die WAT voor. “Vreemde” terme wat reeds in Afrikaanse woordeboeke opgeneem is, word nie kursief gedruk nie, maar terme aan die brontale ontleen (soos in Ps 88:1) word wel kursief gedruk.

Voorbeelde van leenwoorde vir:

AMPSDRAERS EN MIITÊRE TERME:

Centurio 'n Romeinse offisier wat bevel voer oor honderd; •Romeinse ampsdraers.
Etnarg Die ampstitel van iemand wat namens 'n koning of die Romeinse owerheid oor 'n bepaalde gebied of bevolkingsgroep moes regeer; •Romeinse ampsdraers.
Kreti en Pleti Dit was waarskynlik huursoldate wat deel was van Dawid se private leër. Die Kreti het vermoedelik van Kreta gekom, en die Pleti was vermoedelik Filistynse soldate.
Legioen 'n Romeinse militêre eenheid van 6 000 voetsoldate en 'n berede mag. Die woord dui hier 'n groot getal aan; •Militêre terme.

INHOUDS- EN LENGTEMATE

Efa 'n Inhoudsmaat vir droë materiaal. Een efa was ongeveer 22 ℓ koring of gars of meel. 'n Efa koring het ongeveer 16,5 kg geweeg en 'n efa gars ongeveer 13,2 kg; •Inhoudsmate.
Hin 'n Inhoudsmaat vir vloeistof. Een hin was ongeveer 3,8 ℓ; •Inhoudsmate.
Kor 'n Inhoudsmaat vir droë materiaal en vloeistof. Een kor was ongeveer 220 ℓ; •Inhoudsmate.
El Een el is ongeveer die lengte van 'n volwasse mens se voorarm vanaf die elmboog tot die punt van die vingers, ongeveer 45 cm. ; •Lengtemate.
Stadion 'n Lengtemaat van ongeveer 185 meter; •Lengtemate.
Vaam 'n Vaam is 1,85 m; •Lengtemate

MAANDE

Abib Dit is die ouer naam vir die maand •Nisan, in die lente; •Maande.
Adar Februarie of Maart; •Maande
Nisan 
Die Babiloniese naam vir die eerste maand van die lentekalender, die oud-Hebreeuse naam was Abib; •Maande.
Tisri Die sewende maand, Sept/Okt; •Maande.

GELD

Assarius    'n Romeinse kopermuntstuk wat 1/16 van 'n •denarius werd was; •Geldeenhede
Beka  Een beka was dieselfde gewig as 'n halfsikkel en een sikkel het ongeveer 11,4 g geweeg; •Geldeenhede.
Denarius  'n Romeinse muntstuk wat ongeveer die dagloon van 'n arbeider werd was; •Geldeenhede.
Dragme  'n Griekse silwermuntstuk, gelyk aan 'n Romeinse denarius, wat ongeveer die dagloon van 'n arbeider werd was; •Geldeenhede.
Kikar  Dit is ongeveer 34,2 kg. Die •Septuagint vertaal dit met "talent" •Geldeenhede.
Silwerstukke    Een silwer geldstuk of denarius was ongeveer die dagloon van 'n arbeider werd; •Geldeenhede.
Stater  'n Silwermuntstuk wat vier dragme werd was; •Geldeenhede.

SOSIOKULTURELE INLIGTING

Amen, amen Die Hebreeuse woord Amen word hier gebruik as 'n baie sterk bevestiging van sekerheid. Die herhaling daarvan is tipies van Johannes.
Asjera 'n Voorwerp wat in die Baälgodsdiens gedien het as simbool van die moedergodin •Asjera; •Baäl.
Efod Dit was 'n soort harnas of voorskoot wat gebruik is wanneer 'n priester God geraadpleeg het.
Effata Dit is Aramees wat Jesus hier gebruik.
Eunug 'n Ontmande haremopsigter of hofamptenaar wat veral in 'n paleis werksaam was.
Lang stola 'n Lang gewaad wat byvoorbeeld deur skrifkenners, priesters en geleerdes gedra word tydens besondere geleenthede. Dit strek tot op die voete en is 'n simbool van hoë status en waardigheid; •Kleredrag.
Sjefela Die laerliggende heuwellandskap wes van die sentrale bergland in Palestina.
Terebintboom  'n Siro-Palestynse boom met geveerde blare wat bladwisselend is en rooi bessies dra. Dit word ongeveer 5 m hoog. Dit is gewoonlik alleenstaande bome, wat geassosieer is met heilige plekke.

Dit is ten slotte miskien goed om ook daarop te let dat ons vir die name van God in die Ou Testament nie die Hebreeuse terme gebruik nie maar dit onder meer soos volg weergee: “HERE”, “God”, “die Ontsagwekkende God”, “die Allerhoogste God”; “die Ewige God”, “die Verbondsgod”, “die HERE, Heerser oor alle magte” en “die HERE God, die Allerhoogste”. Dit word wel beoog om in die Inleiding ’n lys van die name van God in Hebreeus en Afrikaans op te neem.

 

KOMMENTAAR OP MENINGSOPNAME IN DIE SAAIER

Na aanleiding van die meningsopname oor die gebruik van leenwoorde/vreemde terme in Die Saaier, is daar van die ongeveer 58 000 lesers 33 antwoorde ontvang, waarvan 20 positief was en 13 negatief. Daar moet bygevoeg word dat daar in die verlede reeds enkele ander positiewe en negatiewe reaksies ontvang is.


POSITIEF:

  1. Verskeie Bybelstudie-groepe in ons Aftree-oord gebruik my geskrewe stukke, wat vers-vir-vers verklaring omvat. Dadelik moet ek byvoeg dat al die Bybelstudiegroepe “oop” is vir lidmate van verskeie kerkgenootskappe. In die groep waar ek self leiding neem, is lede van die NG Kerk, die AP Kerk en die AGS. Sedert die verskyning van die “Nuwe Testament en Psalms, Direkte Vertaling”, gebruik ek dit konsekwent. Ek gebruik die 1983-vertaling as basiese “bron”, maar werk ook die 1933-vertaling, sowel as die Direkte Vertaling by, natuurlik met verwysing na die betrokke bron. Waar ter sake voeg ek ook die voetnotas by. Ek haal ook dikwels uit die Woordelyste aan. Ek huiwer nie om, aan die hand van kommentare wat ek raadpleeg, kritiek op die 1933- en 1983-vertalings te lewer nie. Wat die Leenwoorde of “vreemde terme” betref, is ek dankbaar dat u, getrou aan u opdrag, so na moontlik aan die oorspronklike bly, aangesien die “vorige” vertalings dit juis nie altyd gedoen het nie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die “sestien honderd kilometer” van Openbaring 14:20. Daarmee het die totale simboliek natuurlik verlore gegaan. Al “voorwaarde” is dat die betrokke voetnota bygevoeg word, wat u wel gereeld doen.
  2. Ek hou baie van die idee dat terme wat ons nie mee vertroud is op verstaanbare wyse in die teks gebruik word of dan agter in 'n bylaag omskryf word. Op dié wyse is alles in een boek bymekaar.
  3. Kortliks het my versoek sy oorsprong by die eenhede wat in antieke Egiptiese papiri aangetref word. Dit is vir my so absoluut kosbaar dat daardie eenhede slegs vertaal word maar nie omgereken word nie. Veral waar die omrekeningsfaktor nie oor die millennia konstant gebly het nie. Indien daar 'n geskatte omrekeningsfaktor by afstand en massa sou dit van groot betekenis wees om hierdie as addisionele inligting in 'n voetnota gegee kan word. Aangesien ek dikwels teëgekom het dat volumes in die ou antieke geskrifte nie maklik in terme van basiese lengte eenhede van daardie tyd gegee is nie. Verwys bv na die Brons-bak (Kopersee) in 2 Kon 25:13 en 1 Kron 18:8.
  4. Ek is die trotse eienaar van 'n Nuwe Testament van bg. vertaling. Ek persoonlik verkies die gebruik van "Leenwoorde ..." en geniet dit om my Bybel te lees en kan nie wag vir wanneer die Ou Testament sy opwagting maak nie. Ek het so gewoond geraak aan die "metrisering" in die 1983 vertaling en dit maar as korrek aanvaar. Ek is geen geleerde nie, maar 'n "gewone" Christen. (... wat hewig in opstand kom wanneer die Direkte vertaling gekritiseer word).
  5. Na my mening sal 'n direkte vertaling van die woorde soos in die invoegsel bydra tot 'n gevoel van outentiekheid. Ek neem aan dat u van plan is om ook die Heilige Name te herstel?
  6. Die opdrag is duidelik geformuleer en daarom moet aan die opdrag gehou word. Inderdaad is baie van die woorde vreemd aan ons tydvak, kultuur en taal. Nogtans voel ek die vertalers moet getrou bly aan die bedoeling met die betrokke vertaling. Die voetnotas verduidelik genoegsaam. Dit maak die vertaling meer outentiek veral in die opsig dat dit mens terugneem na die antieke leefwêreld. Dit skep ‘n waardering vir konteks(te) – wat vir die lees- en verstaansproses belangrik is. In die proses word dit ‘n leerervaring vir ons as lesers. Die bedoeling van ‘n vryer vertaling is dat hierdie begrippe/woorde seepglad in ons leefwêreld moet inskakel.
  7. Die leenwoorde/vreemde terme is vir my heel aanvaarbaar. Sommige van terme soos bv. Hekatontarg en Chiliarg, wat vir my onbekend is, bemoeilik die lees van die betrokke skrifgedeelte moeilik wanneer mens die terme die eerste keer teëkom omdat mens vashaak om eers die term onder die knie te kry, maar soos 'n mens meer bekend raak met die terme raak die probleem uitgeskakel. Ek meen die vertalers behoort die terme te behou.
  8. Aangaande nuwe direkte Bybelvertaling waaraan tans gewerk word waarin leenwoorde uit oorspronklike taal gebruik word en met voetnotas verduidelik word, kan ek net sê ek is baie opgewonde daaroor Dit plaas 'n mens dadelik in die milieu waarin die teks gebruik is en gee ekstra inligting en agtergrondkennis. Ek dink wel dat dit nie die soort Bybel is wat elke jan en alleman sal lees nie. Ek het dit getoets by ons Bybelstudiegroep en die dames was nie baie opgewonde daaroor nie. Ek dink wel die ewige nuuskierige geskiedenis student sal daarvan hou.
  9. Ek dink ‘n vreemde woord moet gebruik word (met asterisk en verduideliking onder aan die bladsy as julle voel dis nodig om te verduidelik) tensy dit ‘n struikelblok in ‘n sin vir ‘n gewone leser sal wees. Woorde soos byvoorbeeld prokurator, chiliarg ens. word nooit in alledaagse Afrikaans gebruik nie en ek sou vashaak as ek by die woord uitkom. Ook kan dit moeilik wees om te verstaan wat die woord beteken as mens net na die konteks kyk en die leser sal noodgedwonge na die verduideliking onder die bladsy gaan. Ek sou eerder voorstel dat meer bekende woorde soos bevelvoerder gebruik word in hierdie geval. Daar is egter ander vreemde woorde wat makliker is om te lees en wat mens uit die konteks kan verstaan soos el of legioen of maand Nisan. So hier kan die vreemde woord bly maar dalk ook met asterisk en verduideliking onder aan bladsy. Iets ander om dalk aan te dink is hoe gereeld die woord voorkom in die Bybel. As dit vreemd is maar tog gereeld voorkom, word dit later nie meer so vreemd nie aangesien lesers aan die woord sal gewoond raak.
  10. Ek hou baie van die vreemde terme wat gebruik word, want dit help werklik om jou in die leefwêreld van die Bybel te verplaas. Die verduidelikings onderaan die bladsye is meer as voldoende om die vreemde terme te verduidelik. Ons kan nie wag vir die volledige Bybel om te verskyn nie. Die vertalings op die webblad vorm reeds deel van ons Bybelstudie materiaal. (Uit Egipte)

 

NEGATIEF:

  1. Die voorbeeld van Matt 27:27 wat genoem word, lees nie lekker nie. Ek sal beslis nie ‘n Bybel koop of lees wat so vertaal is nie. Ek lees en geniet my Bybels wat in 1957 en 1983 uitgegee is en ek het nog nooit oor iets gewonder nie.
  2. Nee wat, as ek gedurig na voetnotas moet verwys om te verstaan wat ek lees, dan hou ek by die ou vertaling . Dankie, maar nee dankie. (70 jaar)
  3. Stem glad nie saam met die nuwe voorgestelde onbekende woorde nie. Die 83-vertaling sê wat dit wil sê. Kyk bv na Matt 27:27. Julle gaan die leserstal baie beperk. Daarom wil ook nie in die Bybelgenootskap belê nie.
  4. Dit is ons mening dat hierdie name en terme nie nodig is nie maar dat die ware boodskap reg vertolk en weergegee word. As hierdie terme gebruik word moet dit in elk geval verduidelik word wat liewers gewy kan word aan korrekte boodskap van verlossing.
  5. Alhoewel ek oop is vir nuwe vertalings, moet ek eerlik sê dat hierdie direkte vertaling nie lekker lees nie. Die vreemde terme of leenwoorde maak dit moeilik om die Bybel maklik te lees, al sal daar verklarings daarvoor bygevoeg word. 'n Mens wil nie heen en weer tussen die vertaling met leenwoorde en die verklaring daarvoor lees nie. Dit onderbreek jou konsentrasie oor die werklike inhoud van die Bybel. As ek my Bybel lees, wil ek dit maklik lees sonder om die hele tyd te sit en frons oor betekenisse van die woorde. Ek wil die boodskap verstaan in maklike, verstaanbare Afrikaans. Daarom beveel ek glad nie die direkte vertaling van die Bybel aan nie. Jammer!
  6. Ek vind die terminologie in Die Bybel: 'n Direkte vertaling, soos "kohort", "prokurator", "pretorium", ens., absoluut vreemd vir die Afrikaanse volksmond. Myns insiens sal dit waarskynlik vir die saak van die Woord veel meer skade as goed doen, veral t.o.v. die jong geslag. In die verlede wou juis wegbeweeg word van terminologie wat nie meer so algemeen in die volksmond is nie, soos "gindse", ens.
  7. Ek kan verstaan dat nie-Griekse woorde soos amen en pretorium nie vertaal word nie (maar hoekom pretorium en nie praetorium nie?) Dan het ek 'n vraag oor iets soos chiliarg? Dis mos Grieks en 'n vertalingspoging kan mos hier aangewend word? Dis 'n rang ongeveer gelykstaande aan 'n brigadier. 'n Hekatontarg is seker iets soos 'n kaptein.
  8. Ek gebruik noual geruime tyd die proefuitgawe "Nuwe Testament en Psalms, ’n Direkte Vertaling" en raak almeer teleurgesteld daarmee. Dit is ’n halwe vertaling. Daar is te veel vreemde woorde daarin. In die ou vertaling (1953) was daar baie min woorde wat vreemd was. Dit was inderdaad ’n vertaling in die ware sin van die woord. As daar vreemde woorde gebruik word of net so onvertaald geplaas word, wat met voetnotas verklaar moet word, maak dit mos nie sin nie. Dit is erg hinderlik en onaanvaarbaar.
  9. Indien vreemde terme (ontleen uit Brontekste) en selfs ook argaïese Afrikaanse uitdrukkings gebruik word waaroor die leser eers onderrig moet word om dit te verstaan, word die Bybel dadelik ontoeganklik vir ’n baie groot persentasie van Afrikaanssprekende mense. As eksegeet verstaan ek die probleem daarvan om sekere woorde en uitdrukkings in verstaanbare Afrikaans oor te dra, maar om nou nuwe en vreemde “vakterminologie” te gaan skep, gaan na my mening die Bybel nog verder vervreem van Afrikaanssprekende mense as wat tans die geval is.
  10. As nie ‘n kenner van die brontekste nie, kan ek uit die aard van die saak nie gesaghebbend daaroor praat nie, maar as ‘n Afrikaanse en Engelse taalpraktisyn verwys ek na enkele woorde in Lukas soos tans vertaal word. Strydig met die 1933-vertaling wat met groot gejuig aanvaar was, is woorde soos prokurator (goewerneur) (Luk 2:2 e a), tetrag (viervors) (Luk 3:1 e a) en proloog (voorrede). Waarom word na die Griekse oorsprong teruggekeer terwyl goeie Afrikaans die doel moet wees?
  11. ‘n Goeie Bybelvertaling voldoen aan die behoeftes van die gewone Bybellesers. Ek het onder meer vir verskeie Christene gevra wat ‘n tetrarg is. Sommige het onseker geantwoord dat dit een of ander soort heerser moet wees, terwyl ander prontuit verklaar het dit hulle nie weet nie, en ander dat dit seker ‘n regter was. ‘n Prokurator het meeste aan ‘n prokureur laat dink. My mening is dat Bybelvertalers wat hierdie woorde in ‘n Afrikaanse Bybel plaas, hulle met die doel van goeie evangelieverkondiging misreken. ‘n Bybel word tog vir almal se gebruik beskikbaar gestel en nie net vir predikante nie.

 

JSN Solid is designed by JoomlaShine.com